Hierdie versiersel neem ongeveer 10 minute om te maak en smelt glad nie in warm weer. Verder word hierdie mengsel gekook en dan styf geklits agv die teenwoordigheid van eierwit. Om die versiersel dan te spuit is ook maklik en vir seer hande meer hanteerbaar. Ek het onthou hoe my moeder altyd van seer hande begin kla het en sy het gereeld hierdie resep gemaak. Soms het sy so ‘n paar wit malvalekkers bygevoeg sodat die rose wat sy gespuit het ekstra “fluffy” en romerig was.
2 eierwitte van ‘n Jumbo eier by kamertemperatuur
300 g wit suiker
85 g water (onthou dat water in gram en ml dieselfde is, maar vir sukses van hierdie resep is weeg baie belangrik)
30 ml glucose stroop (verkrygbaar by enige bakkers winkel asook apteke en super market)
5 ml geursel van keuse (maak seker dit is ‘n waterbasis geursel) Olie basis sal die eierwit laat pap word. Toets deur ‘n druppel op papier te drup en jy sal dadelik ‘n oliekol en ‘n water kol kan identifiseer. Onthou dat olie ‘n deursigtige merk laat.
Kook solank ‘n kastrol met net genoeg water vir ‘n dubbelkoker. Onthou ‘n dubbelkoker is wanneer jy twee kastrolle of ‘n bak oor ‘n kastrol gevul met genoeg water kook. Die water mag nie dodem van die boonste kastrol of bak raak nie.
Meng die eier witte, suiker, water en glucose stroop in ‘n bak wat as ‘n dubbelkoker gebruik kan word. Roer eers die bestanddele totdat dit lyk asof die suiker opgelos het, dit kan nog korrelrig vertoon. Klits die bestanddele liggies en plaas dan die bak oor die kokende warm water. Hou aan klits met ‘n elektriese klitser vir 3-4 minute op matige spoed of totdat die mengsel sy vorm begin hou en styf word. Per hand met ‘n draadklitser ongeveer 6-8 minute totdat die mengsel begin verdik.
Verwyder van die hitte en hou aan klits totdat die mengsel baie dikker begin word en die punte stywer vertoon en vorm behou. Voeg ook hier dan ongeveer 10 wit malva lekkers wat vir 30 sekondes eers gemikro is, by en klits tot styf.
Laat afkoel en spuit of smeer na gelang. Hierdie spierwit versiersel kleur pragtig in die perfekte kleure.
Bron: Annelien Pienaar, 2019, Basiese koekversiering klas, www.annelienpienaar.co.za


8 Replies to “Vinnige, gekookte versiersel”
alethahugo
Annelien, ek wil hierdie probeer ! Ek het nie ‘n dubbelkoker nie….maak dit saak dat daar spasie is tussen die kleiner pot/bak en die pot onder met die water in ? Sal glasbak werk ? en dan, vir hoe lank hou hierdie versiersel in die yskas en ook hoe lank voor die tyd kan jy versier en dit so versier laat staan ? baaaiiieee dankie
Annelien
Aletha, gebruik ‘n glasbak vir hierdie doel want dit sal nie ‘n spasie laat…bedoel nou, ‘n ronde een. Verder kan die versiersel vir 7 dae gehou word. Groete Annelien
Margaret Orton
Annalien, op watter stadium gooi ek die kleursel by?
Annelien
Hallo Margaret, aan die einde. Groete Annelien
jm.viljoen
Annelien, my malvalekkers wou nie smelt toe ek dit byvoeg nie. Moet dit versnipper wees of vooraf gesmelt word?
Annelien
JM, As ‘n malva lekker nie smelt is daar fout met die lekker self. Ek sny nooit my lekkers kleiner nie. Dit moet net goed genoeg geroer word. Hou my op hoogte. Groete Annelien
Annetjie
Hi Annalien, ek weet dit is n ou pos, maar hoeveel weeg n jum o eier se eierwit? Die winkels hier rondom my het meestal net groot eiers.
Dankie en groete.
Annelien
Annetjie, ek het n hele artikel oor eiers en eier vervanging en gewig persentasies van dop tot geel tot wit. Loer asb hier op die webtuiste. Groete Annelien