‘n Heerlike kruising tussen die tradisionele Kebab en ’n Kofta! Die geheim om die hele vleis sosatie se lagies aan mekaar te hou is die maalvleis mengsel. Hierdie maalvleis mengsel kan heerlik gegeur word met allerlei lekkergeite soos fyn gekapte, gemarineerde songedroogde tamaties, stukkies, olyf gemaal en hande vol vars kruie en heerlike kaas. Tussen lagies rump of sirloin dun skyfies vleis word hierdie maalvleis met lagies spek aan mekaar gehou. Onthou net dat jy die verkoel deel NIE oorslaan of anders sal die stukkies nie mooi sny en ryg.
Maalvleis mengsel
1 kg maalvleis (80/20)
1 ui, fyn gekap
¼ k songedroogde tamatie, gemarineer (opsioneel)
2 snye brood in ¼ k kookwater geweek
1 k mozzarella, gerasper
1 groente aftreksel blokkie, gekrummel
1 t knoffel
4 e woestersous
Meng alles saam en laat rus eenkant vir 10 minute om te set.
Vleis lae
500 g repies spek
1.5 kg silverside repe ongeveer 3 mm dik (soos vir blinde vinke of minute steak dikte) Hierdie velle gaan die bo- en onder kant van die lae dek. Reken op genoeg om ’n A3 vel beide kante te kan bedek.
Sout en peper na smaak.
Pak van vleis lae
Neem kleef plastiek en plaas op toonbank. Ek verkies om eers die oppervlak waarop ek gaan werk met water te spuit so klou die plastiek goed. Indien jy ‘n groot genoeg pan of bak het wat ‘n A3 vel verteenwoordig, werk dit ook lekker. Spuit dit met olie uit, dit help ook die kleef plastiek plat vas plak.
Pak dan die eerste laag dun skyfies vleis, maak seker die vleis oorvleuel.
Daarna gevolg deur spek lagies.
Gevolg deur die volle hoeveelheid maalvleis vas gedruk.
Rond af met nog ‘n laag spek en heel laaste die res van die dun skyfies vleis.
Bedek met kleef plastiek en rol net weer goed vas of druk met hande.
Vries hierdie vleis tot amper hard vir so 6 ure. Sny dan in blokke van 4 cm. Ryk op lang kebab stokke, hout moet eers in water vir ‘n uur week, metaal is wel makliker.
Hou dan verkoel totdat die vleis gebraai word. Sout en peper soos jy braai.
Bedien met die botter of smeer soos jy braai. Hoe dit ook al is, dit is heerlik met of sonder die Chimichurri botter.
Chimichurri botter
1 koppie botter, by kamertemperatuur
¼ k roomkaas
6 knoffel toontjies, fyngedruk
6 takkies vars origanum of koljander blare, gebruik slegs blare
1 bos pietersielie, slegs blare
1 bossie spriet uie, fyn gesnipper
1-2 teelepels brandrissie vlokkies
4 eetlepel vars suurlemoensap
1 t suurlemoen super fyn gerasper (sterretjie kant)
1 e dijon mosterd
Sout en peper na smaak
Plaas al die bestanddele in ‘n voedsel verwerker en maal fyn.
Plaas op kleef pastiek en rol in ‘n worsie. Vries. Sny dan in skyfies en bedien op die vleis…of alternatiewelik, smelt dan die botter en verf oor die vleis of smelt en hou in mooi potjies sodat die gaste self kan giet.
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar vir Pretoria FM 2025
Hoeveelheid: 6 porsies

