
Ons was as kinders vreeslik bederf met warm en vars gebakte skons. Moeder het soms ‘n koppie kaas en halfkoppie spek of ham ingemeng…soms bietjie gekapte sprietuie en heerlike gerookte paprika. Die basis van hierdie skon kan gemanipuleer word in ’n wonderlike eindproduk.
280 g (2 k) koekmeel
20 ml (4 t) bakpoeier
½ t sout
20 ml (4 t) witsuiker
60 g / ml (¼ k) botter of bakkers margarien
1 jumbo of ekstra groot eier, geklits
125 ml (½ k) melk
Voorverhit oond na 210 ℃ en smeer twee bakplate van ongeveer 30 cm by 30cm.
Sif al die droë bestanddele saam. Plaas bestanddele in voedselverwerker en voeg botter by. Draai die lem totdat die mengsel soos broodkrummels lyk.
Plaas meel terug in mengbak en maak holte in meel. Klits eers die eier en melk saam en giet in die holte. Nou hier is die geheim van die resep: Moenie oor meng nie. Gebruik twee tafel messe en sny die meel van buite na binne totdat die deeg klonterig vertoon. Die mengsel moenie een gladde mengsel gemeng word nie.
Sprinkel ‘n oppervlakte goed met meel en keer die klonterige deeg daarop uit. Druk effens plat tot 3 cm -4 cm dik en druk vorms uit of sny soos verkies. Plaas op gesmeerde bakplate en bak vir 15-20 minute by 210 ℃.
Bron: Annelien Pienaar, 2016, Fyngebak klas
Hoeveelheid: 12 skons


6 Replies to “Vinnige Ontbyt Skons”
Catherine
Ek maak n wors sonder om die deeg op te lig. Net so rof by mekaar. Sny dan ringetjies en plaas in kollewyntjie panne.
Dit rys pragtig regop daarin.
Annelien
Catherine, dit is mos nou ‘n oulike idee om die wors te maak. Ek skep gewoonlik met roomys scoop 100g bolletjies uit en bak dan so, maar ek dink jou manier is baie vinniger en makliker. Gaan voorwaar probeer. Dankie Annelien
Helena Makinen
Dit is sommer baie lekker. Vir ‘n twist het ek bebraaide spek en die groen van sprietuie in gesit. Binne 10 minute was alles opge-eet.
Annelien
Wonderlik dat julle so heerlik eet. BKT liefde Annelien Pienaar
akkedis.viljoen
Myne is ietwat platterig maar ek verkies dit bo die verskriklike gerysde skons wat mens sukkel om te eet, nog nie geproe nie maar gaan dit sommer nou nou doen……..het jou vla gemaak gisteraand saam met gebakte appel, die Britse oom was BAIE in sy skik🌺
Annelien
Hallo Akkedis, omdat jy in Engeland woon gaan mens dalk met die rysmiddel aanpassings moet doen. Ek stel voor om ‘n halwe teelepel bakpoeier en en so 1/4 t koeksoda ekstra by te voeg. Groete Annelien