Wat gemaak as jy oorskiet tamaties, groot en klein het? Of jou tuintjie lewer dalk te veel vir wat jy kan gebruik? Wel, droog is die wonderlikste opsie en sodra jy dit benodig kan die tamaties hidreer word en die heerlikste disse daarvan gemaak word. In hierdie resep leer ek jou om tamaties te karameliseer tydens die droog proses asook ‘n heerlike smeer daarvan te maak.

Droog proses
1 kg Roma / kersie tamaties in die lengte deur gesny
medium growwe see sout

Plaas die tamaties met die gesnyde kante na bo op ‘n bakplaat wat met olie gesmeer is of op ‘n silikoon matjie en sprinkel met sout.

Skakel oond na 70 C of as jou oond nie koeler kan draai, maksimum 90 C. Droog die tamaties totdat dit amper bros is vir 8 ure. Hierdie is amper soos om songedroogde tamaties te droog, maar ons gaan so effe langer droog sodat die tamatie begin karameliseer. Hou baie fyn dop veral as die oond warmer is as 70 C. Onthou om die oond deur op ‘n skrefie oop te hou.

Marmelade
1 groot ui, fyn gekap en gaar gebraai in botter
Al die gedroogde tamaties van Fase 1
250 ml kook water
125 ml Bruinsuiker of witsuiker (ek hou van die donker karamel kleur, maar indien jy die rooi van die tamatie wil behou, gebruik witsuiker)
125 ml Balsamiese asyn
100 ml Appel asyn
60 ml heuning
15 ml Tarragon (ek kry dit net by Woolies) anders vervang met tiemie
2.5 ml Sout
15 ml vars knoffel, fyn gedruk
2.5 ml gemmer fyn
5 ml mosterd poeier of 15 ml aangemaakte mosterd
15 ml gerookte paprika
2.5 ml tamarind (dit is regtig opsioneel en kan by enige Indiese spesery winkel gevind word)

Braai die fyn gekapte ui oor lae hitte met botter tot glansend en deurskynend met die sout oor gesprinkel.

Giet kookwater oor die tamaties en kap die tamaties so fyn as moontlik op…kleiner as springmielie pitte, dit moet nog grof maar nie fyn wees.

Voeg al die bestanddele saam en kook vir 10 minute oor medium hitte.

Skep in gesteriliseerde bottels wat lou warm gehou word.

Laat vir 10 minute afkoel en verhit ‘n kastrol met genoeg water om die bottels te bedek. Maak seker die kastrol waarin jy die bottels kook, nie te groot is dat die bottels rond dartel in die kokende water. Plaas ‘n afkoel rakkie binne in die kastrol of metaal potstander, sodat die bottels nie in direkte kontak met die bodem van die kastrol kom. Die bottels kan bars as die water kook en borrel. Anders kan ‘n lappie ook gebruik word.

Maak seker die bottels is dig geskroef en plaas in die kokende water. Plaas die kastrol se deksel op en kook vir 15 minute. Haal dadelik uit en draai op hul koppe. Laat so afkoel.
Hierdie produk kan vir 6 maande op die rak gestoor word…myne hou nooit so lank!

Bedienings voorstel: as smeer saam met ‘n kaasbord veral met roomkaas of mascarpone, roer ‘n lepeltjie by ‘n bredie of smeer op ‘n tuis gebakte broodjie met oorskiet maalvleis, vleis skywe en hoender.

Bron: Annelien Pienaar, Bos en Berg gastehuis, 2019, www.annelienpienaar.co.za
Hoeveelheid: 1 x 250 ml bottel of 2 x 125 ml plat glas bottel