Gemmerkoekie huisie

Gemmerkoekie huisie

Tradisies in my gesin is so vas soos die Magaliesberg waarop my woonhuis uitkyk. Hierdie huisies word elke jaar deur ons gesin gemaak. Soms sny ons net die panele sodat dit ‘n vooraansig is en hang aan die boom of soos nou, bou ons ‘n hele huisie. Die deeg is baie uniek in die sin dat dit ‘n gekookte mengsel is. Die deeg rus vir lank en word redelik goed geknie om ‘n glad en egalige deeg te maak. Die rede vir die gekookte deeg sodat die suiker kan oplos en nie grof in die klaar gebakte koekie vertoon. Dit is hoekom die mure so glad is en ook hard bak.

Deeg
100 g botter of bakkers margarien, gesout
200 g treacle sugar (lopende bruinsuiker)
250 ml goue stroop of maple stroop
2 groot eiers
750 g koekmeel
5 ml koeksoda
10 ml bakpoeier
1 e fyn gemmer
1 e fyn kaneel

Smelt die botter, bruinsuiker en stroop saam en kook vir 5 minute tot suiker opgelos het. Laat eenkant om goed aft e koel.

Sif solank die droë bestanddele saam. Sodra die stroop mengsel afgekoel het, klits die eiers by.

Meng die meel by en roer om bymekaar te kom. Keer die deeg uit en knie tot glad. Deel die deeg in 4 bolle en druk elke bol plat en verkoel vir 3 ure of oornag.

Voor verhit oond na 190 ℃ en smeer bakplate met koekpansmeer in die Boerekos met ‘n Twist kookboek p.13. Rol die deeg 5mm dik uit en sny die panele van die huisie uit. Ek het vir die foto ‘n A4 papier geneem en met die dwarste deur die hoogte van die huisie bepaal…die driehoek deel. Die wydte van al die mure is 15 cm. Die dak is 20 cm lank om ‘n oorhang te kry. Onthou om vooraf deure en vensters uit te sny indien jy gaan insit.

Bak die panele vir 10-15 minute to hard en bruin. Laat eenkant om goed af te koel. Onthou die panele word eers versier en dan aanmekaar gesit. Die panele word met gekookte karamel stroop geheg…die kanse vir brand is groot, so werk asb baie versigtig, ‘n ekstra paar hande sal wonderlik wees.

Royal icing
Baie, baie belangrik met hierdie versiersel…SIF die versiersuiker sommer twee maal. Rede, jy gaan met ‘n 0 of 00 versierpunt werk, baie, baie klein gaatjie en as dit verstop omdat jy nie ortentlik gesif het, gaan jy baie ergenis op die hals haal.

2 groot eiers se witte by kamertemperatuur
¼ t kremetart
240 g (2 k) versiersuiker, gesif
Kleursel na gelang

Klits die eierwitte eers dat dit skuimerig is (nie styf) en voeg dan die gesifte versiersuiker en kremetart by en klits vir 5 minute. Kleur na gelag van behoefte met ‘n waterbasis gel of poeier wat eers vooraf effens met water aan gemaak is.

Skep in voorbereide versiersakke. Plaas dan in ‘n diep bak wat met ‘n groot nat vadoek uitgevoer is. Die nat vadoek sal verhoed dat die punte droog word en verstop.

Spuit patrone soos verkies en laat die koekies vir 1 dag lank droog word.

Karamel stroop
Ek het ondervind met die byvoeging van die glukose stroop en die kremetart dat die stroop mooi vinnig sonder om wit klonte te vorm, kook tot ‘n goue stroop.

1 1/3 koppie wit suiker
¾ k water
4 e glukose stroop of goue stroop
¼ t kremetart

Plaas al die bestanddel in ‘n kastrol en roer oor medium hitte tot opgelos. Kook dan die mengsel vir 10-15 minute en MOENIE roer nie. Draai die kastrol in die rondte (swirl), soos jy pannekoek beslag in die pan sal laat vloei.

Sodra die kokende stroop begin lyk of dit begin verkluer gee, 1 minuut vir kook en haal dadelik van die warm plaat af.

Doop beide van die sykante van die huis in die stroop en plak teen beide voorkante vas. Neem die volgende sy paneel en doop weer beide kante in stroop en plak dan vas. Nou staan die huisie regop. Onthou, hierdie is die enigste logiese manier om te plak. As jy nie die sykant altwee sye in die stroop doop…hoe gaan jy die ander kant doop as dit eers vas geplak is aan die voorkant? Jy sal hierdie een eers verstaan as jy begin plak.

Jy sal ook nou verder sien dat in die binne hoeke daar dalk dele mag wees waar die koekies nie aan mekaar raak nie. Neem ‘n teelepel en drup van die bokant stadig in klein stroompie van die stroop in die holte af…hanteer al drie sye so. Nou is dit die dak. Die dak se panele word een vir een geplak. Neem ‘n mes en smeer op die huisie se randte van die stroop. Plak en voltooi die ander paneel. Nou, weer as jy gate sien vul op.

Gaan spog en bederf! Geniet.

Bron: Annelien en Anè Pienaar, Kersfees 2017.
Hoeveelheid: 1 huisie van 25 cm hoog en 15 cm breed. Met die afval deeg ongeveer 12 x 5 cm koekies.

2017-12-22T19:01:11+00:00 0 Comments

Leave A Comment