
Hierdie koek is eintlik ‘n Amerikaanse resep wat ek jare gelede teëgekom het genaamd: Chocolate Brownie Moccha cake en die kloutjie by die oor gekry. Iemand het my vertel van die Waenhuis koek wat hulle in Heidelberg area geëet het. Met navorsing en baie vrae was hierdie dekadente koek die uitvloeisel van daardie resep. Die koekbeslag word gemaak en in ‘n koekpan geskep, daarna word die meringue bo-op die rou beslag geskep en die twee lae word dan so gebak. Ja, ek weet dit klink snaaks maar dit is hoe die koek gebak word.
Die oorspronklike resep het ’n sjokoladekoek basis, maar die ene van Heidelberg was ’n vanieljekoek resep gewees. Daarom gaan ek vir julle die opsie in hierdie resep gee om die koek basis in sjokolade of vanielje te bak. Omdat daar room op die meringue geskep word sodra die koek goed verkoel het, kan die room tot gevolg hê dat die meringue smelt. Daarom het ek het die resep gestabiliseer sodat die room gedeelte met gelatien verstewig word en dit nie die meringue gedeelte pap maak nie. Hierdie resep het bietjie ontwikkel werk gehad en ek dink met hierdie kinkel met die gelatien wat ek ingebring het, kan die koek 7 dae in die yskas hou…maar dit is so lekker dit sal binne dag 1 op wees! Ek dink die naam Waenhuis koek…verwys seker na ‘n wavrag tegnieke om die outjie te maak. Ek sal hom verseker weer maak.
1 k droë broodkrummels
130 g (½ k) sagte botter
100 g (½ k) witsuiker
4 eiergele
140 g (1 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
Knippie sout
125 ml (½ k) melk
100 g (½ k) okkerneute of pekans, gekap
4 e kakao met 50 ml kookwater aangemaak
Voorverhit oond na 170 ℃ sonder thermofan, indien jou oond se thermofan nie kan af, bak die koek dan eerder by 150 ℃ vir – 60 minute. Smeer twee koekpanne met ’n deursnit van 20-24 cm en sprinkel met broodkrummels, plaas eenkant. Ek het in hierdie foto die pan se wande met waspapier uitgevoer sodat die kante mooi vertoon as dit koek aanmekaar gesit word. (die kante is ook met broodkrummels uitgevoer…die koekpan smeer in die Boerekos met ‘n Twist kookboek, is perfek om die krummels in plek te hou.)
Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam.
Room die botter en suiker saam vir 5 minute totdat dit lig en romerig is. Voeg die eiergele een vir een by en klits baie goed na elke byvoeging.
Voeg die melk, kakao en koekmeel mengsel by die eiergele en meng goed deur. Skep die mengsel in die voorbereide panne en sprinkel die neute oor die twee panne.
Meringue laag
4 eierwitte
5 ml (1 t) kremetart
15 ml (1 e) mielieblom, maizena
5 ml (1 t) suurlemoensap
200 g (1 k) witsuiker
Klits die eierwitte en kremetart saam tot sagte punt stadium. Voeg die mielieblom en suurlemoensap by en roer deur, klits dan die witsuiker lepel vir lepel by en hou aan klits totdat al die suiker ingewerk is en die meringue ‘n silwerglans verkry.
Skep die meringue op die koeklae en versprei eweredig.
Bak die koek vir 25-35 minute totdat die meringue bruin en geset is. Indien jou oond geneig is om warm te bak, sit ‘n stukkie foelie oor die pan met die blink kant na buite.
Laat die koek baie goed afkoel. Ontvorm versigtig en plaas in die yskas vir 2 ure. Hierdie stappie help die room om dadelik te set en nie die meringue te affekteer nie.
Roomvulsel
Hier kan julle met die geur van die roomvulsel speel. Ek het 1 t koffie poeier met 1e kookwater gemeng vir die mocha deel. Maar jy kan geur soos dit jou pas…vrugte geure soos rooswater vir bessie vulsels, of wat van klapper geursel…aarbei, piesang…Ek los die geure by julle.
Vir die sjokolade koek kan jy natuurlik ons ou vriend die Karamel blikkie saamsleep en ‘n halwe blikkie in die mengsel insit!
250 ml (1 k) room (yskoud…soos in yskoud)
5 ml (1 t) geursel van keuse
60 ml (4 e)witsuiker
1 e gelatien poeier opgelos in 50 ml kookwater
Los die gelatien poeier in die kookwater op en roer sodat die mengsel soos stroop lyk, geen stukkies sigbaar. Verhit eerder deur die gelatien bakkie in kookwater te plaas.
Voeg geurmiddel en witsuiker by die room en klits, terwyl jy klits voeg die gelatien in ‘n baie dun straaltjie by die room en hou aan klits totdat die room begin dik word en die klitser se merke bly. Oppas, vir te veel klits…ons maak nie nou botter nie.
Koek konstruksie
Daar is geen voorgeskrewe reël oor hoe die koek op mekaar gestapel kan word nie…jou keuse. Jy kan die een koek op sy kop draai sodat die meringue na onder lê sodat die koek amper soos ‘’n toebroodjie op mekaar lê. Of jy kan die koek gewoon op mekaar stapel. Vir die foto het ek die lae soos ’n broodjie gepak.
Smeer al die room op die eerste laagkoek en plaas vrugte stukkie of neute in die middel. Ja, selfs sjokolade en fugde sal heerlik werk. Plaas die boonste deel op die koek en voila!
Hierdie koek op die foto het: in die room frambose (raspberries) in die room ingevou en gegeur met vanielje.
Hou die koek te alle tye in die yskas.
Bron: Annelien Pienaar, 2017, BKT resepte afdeling, Gevorderde Koekbak klas
Hoeveelheid: 12 porsies.


18 Replies to “Waenhuis koek”
THEURIA STEYM
Dankie sterretjie
Boerekos
Groot plesier en kom spog op FB se Boerekos met ‘n Twist blad.
Daleen
Jy is n ster Annelien. dankie
Annelien
Lekker bak en brou
Mariaan
Lekker om koek op ñ heel ander manier te hê. Gn dit verseker probeer!
Annelien
Geniet hierdie resep, dit is ‘n treffer. Groete Annelien
Helena Mäkinen
Shoe! Dit klink hemels lekker. Baie dankie. Ek dink dat ek dit vir Vadersdag maak.
aquavan1
Annelien, wat is die doel van die broodkrummels onder en aan die kant van die koekpanne? Kan ek by merinque koppie strooisuiker 210g gebruik ipv die gewone suiker? Dankie
Annelien
Die koekkrummels gee ‘n ekstra los maak van die koek met ‘n krakerigheid by. Die suiker kan vervang word soos wat jy in die boek gelees het om suiker en strooisuiker se gewigte uit te ruil. Ek kan sien jy gebruik jou boek! Lekker bak en kom spog met die koek op BKT Faceboek. Groete Annelien
Annelien
Ag nee man, Vadersdag is te ver…bak nou. xxxAnnelien
dr.m.bodenstein
Genade tog, dit lyk na ‘n heerlike koek en ‘n lekker uitdaging. Ek gaan dit bealis probeer. Dankie Annelien.
dr.m.bodenstein
Ek het nou mooi gekyk en sien jy het die koeke omgedraai sodat die meringue nie met die room in aanraking kom nie. Slim plan.
Annelien
Dit werk soos ‘n droom…geniet en kom spog hoor. Groete Annelien
Annelien
Dit is ‘n maklike koek met ‘n groot beloning op ‘n prentjie mooi voorkoms. Geniet!
Coreen Loubser
Annelien Skuus ek klink dom bak ek koek en meringue saam 25 min
Annelien
Hallo Coreen, Dit is korrek ja.
Elna Erasmus
Ek het juis gister hierdie kook by Goud en Diamante in Heidelberg geëet. Hulle sit ook ‘n vlavulsel tussen in. Hemels!! Baie, baie dankie vir die resep
Annelien
Geniet en mag jy heerlik bak.