Kortpad was nog nooit verkeerd en wel…jy kom by dieselfde punt uit van lekkerrrr met ‘n hoofletter RRRR…
Hierdie wenk het ek paar keer al te vore met ons gaan kamp-kuiers toegepas en dit werk puik. Nou ek is maar ‘n gemaklike een en hou soms van die luukse items soos my stoomdruk koker in my buitelug kombuis want dit kan ingespan word omdat dit ook ‘n Prutpot funksie het. Nou almal weet dit is maar ‘n duur storie om karamel te koop en hoekom dan nou nie maar die potjie kondensmelk wat jy vir koffie beplan maar eerder in karamel te omskep.
Vandag wil ek jou twee metodes leer van karamel kondensmelk maak met die Stoomdruk koker (Pressure cooker) of Prutpot (Slow cooker) en dan maak ons ‘n heerlike kortpad Amarula room poeding.
Stoomdruk koker: Die blikkie kondensmelk moet toe wees. Jy kan met gemoedsrus die oop trek kannetjies gebruik sonder om te kommer dat die deksel sal oop gaan.
Plaas die houertjie in die stoompot, vul vol met water en stoom vir 60 minute (lyk soos die winkel sin) en dan weer nog ‘n 60 minute as jy dit super dik wil kry.
Prutpot: veronderstel nou die blikkie is oop gemaak. Plaas dan die kondensmelk in ‘n glas botteltjie met dig passende deksel. Plaas in Prutpot vul op met water tot driekwart van die bottel net voordat die botteltjie begin dryf. Kook dan op hoog vir 8 ure. Jy sal deur die glas die transformasie gewaar.
Die Nagereg:
1 pakkie boudior koekies
½ k Amarula of enige ander koffie likeur gemeng met ½ k room of water
Nota: indien jy nie alkohol wil gebruik, kan flou rooibos tee of koffie in die plek daarvan gebruik word.
Hou hierdie eenkant vir die lagies bou.
1 blikkie karamel kondensmelk
1 koppie botter of goeie kwaliteit 80% bakkers margarien (sag en by kamer temperatuur)
5 e versiersuiker
250 ml room
Klits die botter en versiersuiker tot glad en romerig. Klits dan die karamel kondensmelk by sodat ‘n lig en romerige mengsel vorm. Klop die room styf en vou in.
Nota: indien jy super stout wil wees kan jy stukkies fudge of selfs sjokolade stukkies of nougat in sit!
Neem dan bekertjies of bakkies na gelang van jou keuse en breek die koekies baie grof op en sprinkel met die likeur mengsel, lagie karamel en so hou jy aan totdat die lagies voltooi is.
Jy kan ook alles in ‘n tertbak in lagies doen en dan die koekies heel hou.
Verkoel oornag of vir 6 ure en geniet die droom lekker happies!
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2024
Hoeveelheid: 4-6 porsies


5 Replies to “Karamel en Amarula roompoeding (maak jou eie karamel kondensmelk)”
vivier.gesin
Baie dankie Annelien ek hou van dié weergawe sonder eiers.
Tracey Grobbelaar
Hierdie is vrek lekker, maar moet toe gesluit word, 😂
Annelien
Ja dit is mos my doodskoot ook…en so vinnig en maklik dit is verseker. Dankie vir die terugvoering.
Groete Annelien
Annelien
Lynette,
Groot plesier.
Groete
Annelien
Marliese Fölscher
Lekker Annelien! Laat my aan ‘n boere-tiramisu dink 🙂