
Cous-cous is my noodhulp vir ‘n situasie wat kits slaai benodig. Ek noem dit my alles-in-een slaai: stysel, groente, olie en neute. My kinders is dol oor die slaai en ek pak gereeld vir hulle kosblikke vir na skool met sport en aktiwiteite. Gesond en heilsaam.
Gaarmaak van Botterskorsie
1/2 k olyfolie
2e balsamiese asyn
2 e heuning
1/4 t sout
Meng bogenoemde bestanddele saam en giet oor 1 kg botterskorsie blokkies in ‘n meng bak. Laat vir ‘n wyle rus totdat die oond warm is. Voor verhit oond na 200C en sodra die oond tot temperatuur gekom het, sprei die botterskorsie blokkies oop op ‘n bakplaat en bedek met foelie. Bak vir 15 minute bedek en open daarna en bak droog vir 5 minute en laat goed afkoel voordat dit in die slaai gebruik word. Die blokkie grootte is ongeveer 4 x 4 cm. Dit word aansienlik kleiner as dit gerooster word.
1 ½ k cous-cous
3 e olyfolie
1 k kook water
1 t geelsout (resep op blog) of enige ander gegeurde sout
1 t fyn knoffel
1 t vars gemaalde swart peper
400 g gaar botterskorsie blokkies
200 g feta kaas
1 k kersie tamaties
5 basillie blare
3 e olyfolie
1/4k balsamiese asyn
Marineer blokkies feta in balsamiese asyn vir ñ uur. Dreineer.
Plaas cous-cous in ’n bak en roer die olyfolie, knoffel en geelsout by. Voeg die koppie kookwater by en roer goed deur. Bedek met kleefplastiek en laat eenkant staan vir 5 minute. Roer goed deur sodat vlokkies skei.
Voeg die res van die bestanddele by mekaar en roer goed. Voeg dan by die cous-cous en roer goed deur. Bedien louwarm of koud.
Heerlik om te laat vir die volgende dag. Kan bedien word met een van die slaaisouse in ons sous argiewe. Die yoghurt sous is heerlik.
Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 6 porsies


2 Replies to “Botterskorsie en Cous-cous slaai”
Petro
Baie dankie. Die resep kon nie op n beter tyd kom nie. My gluten (nou allergies en nie meer intollerant), vegetariese kind en haar Duitse liefde (ook vegetaries) val toe gisteraand hier in die Bosveld uit soos piekniekskons. Bly om hulle te sien, maar o wee! my verstand werk oortyd en 10 dae se kuier klink nou lank. Ek gaan jou resepte BAIE gebruik! Dankie!
Annelien
Sterkte en krap lekker hier tussen die resepte, jy sal wel geholpe raak. Geniet die kuier en goed gaan. Groete Annelien