
Hierdie beslag vertoon krummelrig as dit gemaak word en jy wil-wil nog vog bysit…maar dan begin jy bolletjies rol en plat druk. Sodra jy die oond deur oopmaak dan kry jy die grootste beloning vir jou geduld. Karamel en klapper geure trek deur die lug, die koekies is bros buite met so ‘n effense taai binnekant. Jy kan egter besluit of jy die koekies langer wil bak vir ‘n bros koekie wat met ’n klapgeluid breek. Hierdie koekies hou klein mensies se handjies vir lank besig. Tydens die bak van hierdie koekie het ek nie koekmeel gehad nie en broodmeel gebruik. Ek het egter 30 ml mielieblom by die broodmeel gevoeg om die proteïen inhoud van die meel te verlaag om ’n sagte tekstuur koekie te kry. Beide Eurekamills se brood en koekmeel is geskik om die koekie mee te bak.
Met die fotografering van hierdie koekies het ek die kamera op gestel en ouboet gevra om sussie dop te hou terwyl ek gou die ander koekies uit die oond haal. Later met die aflaai en verwerking van die foto’s ontdek ek ouboet se goeie oog met sussie wat koekies steel!
250 g (1 k) botter of bakkers margarien
2 k (400 g) witsuiker
2 k oats
2 k klapper
1 e koeksoda
4 e stroop (gegeurde stroop is ook heerlik soos esdoring)
4 e kookwater
2 k (280 g) koekmeel
Voorverhit oond na 180 ℃ en berei twee bakplate voor vir die koekies. Jy gaan hierdie plate ongeveer 4 keer weer gebruik.
Klits die botter en witsuiker saam tot lig en donsig.
Meng die hawermout en klapper saam. Voeg kookwater by die stroop en roer tot opgelos. Voeg die koeksoda by en meng deeglik om klonte te verwyder. Klits dan by die bottermengsel in.
Voeg die klapper mengsel by die bottermengsel en meng goed deur. Laaste werk die koekmeel deeglik deur die mengsel. Meet met roomys scoop 15 ml balletjies af. Druk met drie vingers langs mekaar effens plat.
Bak vir 10 minute by 180℃ en dan vir 5-8 minute by 150℃ totdat koekie goudbruin is en gekraak het.
Bron: Annelien Pienaar, 2017, Koekiebak klas vir Geskenke uit jou koskas
Hoeveelheid: 60 koekies of meer.


6 Replies to “Karamel Hawermout koekies”
Tineke Brookes
My ma het n resep waar sy al die deeg in n oondpan vasdruk en dan in blokkies sny wanneer dit afgekoel het. Sal jou beslag werk daarvoor?
Annelien
Tineke,
Dit is hoe hierdie resep ook werk een groot pan wat later opgesny word.
Groete
Annelien
Hanns Nieuwenhuis
Hi Annelien
Kan mens die klapper uitlos? My tannie het n alergiese reaksie vmet klapper
Annelien
Hallo Hans,
Jy kan die klapper uit los maar vervang dan die klapper met nog hawermout asb in dieselfde gewig.
Groete
Annelien Pienaar
Barend
Annelien hierdie resep het wit suiker in wat table is vir einige diabeet .Dan is dit nie diabetiese koekie ni???
boerekostwist
Barend, hierdie is nie ‘n Diabetiese koekie nie. Loer op my webtuiste is daar heerlike Diabetiese resepte. Groete Annelien