Biltong en kaas is wonderlike pasmaats. Hierdie happies is heerlik met die dik kaas sous wat as vulsel gebruik word. Jy kan die koekies enkel of as dubbel laag maak. Soort van ‘n sout weergawe van ‘n Macaron net met die Boere Twist by. Maak seker dat die sous goed af gekoel het voordat dit gespuit word anders skuif die dekseltjies af.

Wenke vir geure: uie- en knoffel poeier in kombinasie met dill (loer by Woollies vir dill wat in sy gedroogde formaat verkoop word) as ‘n heerlike pasmaat vir een van die twee: uie of knoffel.

1 x Vinnige kortpad Blaarkors deeg resep
2 k grof gerasperde cheddar kaas
¼ k koekmeel gemeng met ¼ k mielieblom vir uit rol

Sprinkel van die meel mengsel in ‘n ligte lagie op die werksoppervlakte. Haal die klaar gemaakte deeg uit die yskas.

Rol die deeg in ‘n reghoek uit van ongeveer 5 mm dik. Sny die deeg in 4 ewe groot dele min of meer. Verdeel die kaas in drie hopies. Sprinkel die eerste laag met kaas en bedek met ‘n lappie deeg, herhaal totdat jy eindig met een deeg laag.

Begin deur met jou hande liggies die lae op mekaar vas te druk. Neem dan ‘n koekroller en begin baie liggies eers met druk aksies vanaf die middel na die kante die deeg vas te druk en doen dit ook oor die dwarste. Rol dan die deeg tot 5 mm dik uit en druk dan vormpies van keuse uit of om nie deeg te mors, sny in langer vingers of vierkante.

Meng 1 eierwit met 4 e melk en ‘n knippie sout, verf die doppies se bokante.

Bak dan die vormpies by 180 C vir ongeveer 15-20 minute tot lig bruin.

Kaas sous
250 ml melk
30 ml koekmeel
30 ml botter
500 ml kaas – gerasper
2 ml neut muskaat
¼ t gerookte paprika
¼ k fyn biltong
Sout en peper na smaak

Plaas die botter in ‘n glasbak en verhit in die mikorgolf vir 30 sekondes totdat die botter gesmelt is.

Neem nou ‘n draad klister (whisk) en klop die meel goed by die botter. Draai weer vir 30 sekondes en stop.

Voeg nou die melk by en klits goed deur met draad klitser totdat al die meel goed versprei is in die melk. Mikrogolf vir 1 minuut, haal die bak uit en klits weer deeglik deur met die whisk.

Herhaal hierdie proses totdat die mengsel goed verdik het. Sal ongeveer 5 minute neem. Nooit weer sal jy witsous hê wat aanbrand nie!

Voeg die res van die bestanddele by asook kaas en roer totdat die kaas goed opgelos het en die mengsel eenvormig is. Laat tot lou warm af koel en skep die sous in ‘n spuit buis met ‘n 5 mm gaatjie. Laat dan die mengsel goed afkoel en dik word by kamertemperatuur.

Konstruksie van happie

Neem die afgekoelde doppies en -vulsel en spuit dan die koekies met bolletjies van die vulsel. Druk dan die dekseltjies op en smeer bietjie van die vulsel op die boonste doppies en sprinkel met biltong.

Onthou jy kan ook die koekies as ‘n enkel laag doen en dan net n blopsie van die kaas vulsel bo-op die koekies spuit en netjies afrond met groter stukkies biltong ipv poeier…lekker speel..dink ook aan chorizo worsies in dun wieletjies as skuins dekseltjies as garnering.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar, 2024
Hoeveelheid: jy kan werk op so 50 dubbel gevul of 100 enkel maar dan sal jy vir die enkel moet ekstra vulsel maak. Onthou egter werk op R5 munt en groter doppies.