Pasta slaai wanneer mens gaan kamp en of net ietsie lui op die rak wil hou is witgoud op ‘n rak. Daar is egter ‘n paar belangrike Voedsel veiligheids aspekte waarna ons moet kyk in hierdie resep en ek bied dit vir jou in ‘n klein kort les aan.

Lees asb hierdie inligting sorgvuldig deur en so kan jy verseker dat die gebottelde slaaie op jou rak wel lank sal hou.

Omdat hier eier in die vorm van mayonnaise in die bestanddele is, kan die produk maklik afgaan indien jy die stap vir die warm water bad metode oorslaan. Daar is baie mense wat reken dit is nie nodig om hierdie fase te doen en dat hul suksesvol al vir 3-6 maande die produk in hul spense gestoor het. Vir my gaan dit oor Veiligheid eerste en jy wil nie Botulisme opdoen…lees gerus my artikel oor Botulisme en die gevare van wanpraktyke.

As Voedsel Wetenskaplike is dit vir my krities om eerder ‘n volledige les saam met hierdie resep te gee en ek weet ek my verantwoordelikheid na gekom om jou veiligheid te verseker en ook die van jou geliefdes.

Dankie dat jy die tyd neem om hier te lees en mag jy die resep en les geniet.

1.5 kg gaar pasta (dit is ongeveer 1 kg se pasta) (hierdie resep werk ook met rys noedels en gluten vrye pasta)

Hier is die tydsberekening belangrik en pasta moet warm met sous gemeng word. Wanneer die pasta gekook word moet dit nog rouerig wees as jy die pasta uitskep. Die pasta moet Al dente wees, sag maar nog ferm as jy dit byt. Onthou, die pasta gaan nog in die waterbad verder ook kook en sal teen die tyd verby is perfek sag wees.

1 blikkie (410 g) pynappel dreineer, in stukkies gesny. Hou die sap vir die sous asb.
1 k wortels in repies of blokkies gesny
1 k soet rissie in repies of blokkies gesny
1 k murgpampoentjie repies of blokkies (kan met eiervrug, vlapampoentjies, okra vervang word)
¼ k olie

Roerbraai al die groente saam tot glansend en hou eenkant. Roer dan die pynappel by.

Sous
3 uie, fyn gekap, ongeveer 2 koppies se mate
250 ml (1 k) wit druiwe asyn
200 g (1 k) witsuiker
125 ml (1/2 k) van die gedreineerde geblikte pynappels
250 ml (1 k) pasta water
50 g tomato paste (die dik konsentraat)
15 ml (1 e) fyn gedrukte knoffel
5 ml (1 t) gedroogde origanum of tarragon of tiemie
2.5 ml sout of na smaak
5 ml swart peper

Plaas al die bestanddele in ‘n diep kastrol ek kook totdat die uie net net begin sag word.

Voeg die gebraaide groente by, proe die groente vir sout balans.

Maak seker teen hierdie tyd dat jou bottels warm en gesteriliseer is. Die pot met kook water ook gereed soos in die volgende verduidelik. Bring ‘n kastrol met water tot kookpunt, die kastrol moet ongeveer half vol gevul word want die bottels gaan in hierdie kastrol gekook word. Kies ‘n kastrol wat die bottels in kan pas sodat die bottels styf kan pas teen mekaar en nie rond hop soos dit kook nie asb. Jy kan eerder twee of drie kastrolle gebruik. Sou daar spasies oop wees, sit ‘n leë water gevulde bottel in om te keer dat die ander bottels om val. Verder sit ‘n lappie onder in die kastrol net voordat die gevulde bottels in die kastrol geplaas word.

750 ml mayonnaise van jou keuse. Indien daar ‘n eier allergie is kan jy die volgende resep Vegan Mayonnaise gebruik vir eiervrye mayonnaise.

Meng dadelik die warm pasta en mayonnaise by en skep in bottels tot onder die draai van die skroef ring. Vul met 1 e olie op.
Daarna skroef die bottels toe, en hier is die vang plekkie, draai met een haal die bottel toe, maar nie so toe soos mens sou draai as jy iets styf toe moet maak. Die toedraai moet net mooi haak dan is dit genoeg.

Plaas dan die gevulde bottels in die kokende water op die lappie, onthou om ‘n pot met ekstra kokende water eenkant te hou om die bottels te bedek. Die bottels moet ten volle bedek word met water, daar moet 5 cm spasie tussen water en deksel wees. Vul te alle tyd water aan soos die proses verloop.

Kook die potte met deksel op vir ongeveer 25 minute en dan baie belangrik die water moet stadig prut nie borrelend kook nie. Tydens hierdie proses sal die lug van binne die bottels uit gestoot word. Sou die water vlak daal het jy ‘n probleem as jy nie met WARM kook water aanvul. Die water se temperatuur moet ook konstant wees as dit by die pot gevoeg word want die bottels as dit sou afkoel, sal van die koue water n vakuum suig en van die water dus intrek en dan bederf jy al jou werk. So warm water by warm kokende potte asb.

Sodra die tyd verby is, skakel die plate af, verwyder die kastrol van die hitte bron en laat vir 5 minute staan. Lig die bottels dan uit die potte, draai die deksels styf toe en plaas op ‘n handdoekie want die bottels mag bars op ‘n baie koue oppervlak. Die produk is perfek geseel as die deksel in duik.

Stoor in spens en sodra geopen hou verkoel. Soms mag die pasta dalk droog voorkom en of deur die glas geskif, roer maar net alles goed deur en vul aan met bietjie mayonnaise of selfs room of suurroom. Verskillende vorms pasta mag dalk minder of meer sous benodig. Bv skroefies of penne meer sous en spaghetti of tagliatelle minder.

Bedienings voorstel: snipper kaas, stukkies oorskiet vleis by die gereg in en vars kruie van keuse soos platblaar Pietersielie, basillie kruid of origanum.

Kopiereg: om my as skrywer se werk te deel mag ek asb vra dat dit nie gecopy en paste word maar met die relevante skakel te deel. So hou ons die resepte lewendig en help ons mekaar bou aan ons besighede. DAnkie dat jy hierdie resep op die proe(f) stel. Loer gerus in by Boerekos met ‘n Twist op Faceboek waar jy heerlik saam kan kuier en leer in my lesers gemeekskap.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar, 2023
Hoeveelheid: 4-6 x 750 ml bottels (afhangend van jou jou pasta keuse)