In hierdie baie eenvoudige resep kan daar van selfs ‘n Bamix, blender stok tot handmenger gebruik gemaak word om hierdie heerlike eiervrye mayo te maak. Jy sal nie eens weet dit is nie n egte mayo nie, so heerlik en romerig is dit.

¾ k kekerertjie water (chickpea water) ongeveer 2 x 410 g blikkies
15 ml (1 e) suurlemoensap
15 ml (1 e) kekerertjies, heel
15 ml (1 e) Dijon gladde mosterd
5-15 ml witsuiker of heuning na gelang van smaak
1 ¾ k sonneblom olie
Sout en peper na smaak
1 t gedroogde dill

Plaas kekerertjie water in ‘n kastrol en bring tot kookpunt. Kook vir 5 minute oor matige hitte om die protein in die vog meer te konsentreer deur water te verminder.

Koel tot baie koud af voordat dit gebruik word. Kan ‘n dag voor die tyd gedoen word, bedek word en verkoel word tot benodig.

Indien jy ‘n elektriese hand blender stok het soos ‘n Bamix, kan al die bestanddele in die menger se beker geplaas word en dan eers met die basiese lem die kekerertjies fyn maak en daarna met die plat ronde skyf tot ‘n mayonnaise wat emulsie hou verwerk word. Dit neem met die BAmix so 45 sekondes of minder, lae revolusie blender stokkies neem so 4 min. Indien jy nie een van die twee besit, volg die onderstaande instruksies om met ‘n hand of elektriese menger te maak.

Maak die kekerertjies baie baie fyn. Voeg die kekerertjie water by die fyn kekerertjies asook die res van die bestanddele behalwe die olie. Klits alles tot goed glad en begin deur die olie in ‘n baie baie dun straal vir ‘n periode van 5 minute by die mengsel in te werk. Hoe stadiger jy die vloei maak, hoe beter word ‘n emulsie gevorm soos die mengsel klits. Hou so aan totdat al die olie in gewerk is. Geur na smaak.

Die raklewe in die yskas is ongeveer 4 weke. Seel dig en hou in yskas.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar Food Consultant 2020
Hoeveelheid: 450 ml volume