Linzer koekies is iets waarmee ons groot geword het en tot vandag elke jaar met Feestyd berei word. Die geure van die koekies varieer soms baie want ek gebruik bessie pulp wat ek in voorraad het. Jy ka nook die sap van vrugte gebruik soos in die geval van pynappel, granate, suurlemoen en vele meer. Maar die rooi kleur is vir my nog altyd die bekoorlikste.

Vir hierdie koekies benodig jy Pektien poeier wat jy by enige gesondheidswinkel of selfs gesondheidsrak van enige apteek kan koop. Onthou dat Pektien NIE Gelatien is en Gelatien is nie geskik vir konfyt kook nie.

Jellie vulsel
2 k puree of sap van keuse (onversoet en wat jy self uit gedruk het.
30 g pektien poeier
2 k witsuiker

Meng eers die suiker en pektien goed saam in ‘n kastrol deur met ‘n draad klitser daardeur te meng. Voeg dan die pulp of sap by en roer goed deur. Bring stadig tot kookpunt en roer om die suiker te laat oplos. Sodra die mengsel begin kook, kook vir 5 minute en hou dop of die mengsel verdik het. Anders kook nog so 3 minute by matig hoog.

Ek gebruik ‘n kastrol met n bodem deursnit van 20 cm, wat ‘n goeie verdampings tempo gee met konstante diktes elke keer. So hou hierdie ook ingedagte asb.

Giet in warm gesteriliseerde fles uit en laat afkoel terwyl die koekie deeg berei word.

Koekie deeg
350 g botter of 80% bakkersmargarien, kamertemperatuur
200 g (1 k) witsuiker
5 ml (1 t) vanielje geursel
490 g koekmeel
Knippie sout
Versiersuiker om koekies mee te sprinkel

Voorverhit oond na 180C. Berei bakplate voor met Teflon velle en hou in die vrieskas.

Plaas botter, suiker en vanielje geursel in ‘n mengbak en indien jy met ‘n staan menger werk, gebruik die K-haak. Klits die mengsel tot lig en donsing vir 8 minute. Onthou, hierdie resep kry NIE ‘n rysmiddel in omdat dit ‘n brosbrood koekie basis is. Dus is die lug wat jy in werk en die tyd van klits baie belangrik. Klop op ‘n matige spoed, nie te vinnig.

Sif droe bestanddele saam. Meng dan op stadige spoed en voeg die meel by die verroomde mengsel. Sodra die deeg bymekaar kom stop. Druk die deeg in’n plat reghoek van A4 grootte. Draai toe in kleefplastiek. Verkoel 30 minute.

Laat deeg vir 5 minute by kamertemperatuur staan. Rol dan 5 mm dik uit. Ek vind dat as jy nie gewoond is aan eweredig rol om twee lang sosatie stokkies as gidse langs jou deeg te gebruik of twee ewe dik tydskrifte met kleefplastiek oorgetrek. So leer mens sommer gou gou hoe dik is 5 mm.

Druk vormpies van keuse uit. Onthou om asb die koekies met die gaatjies in die middel nie saam met die soliede basisse te bak. Die koekies met die gaatjies bak vinniger bruin as die soliede basisse. Baktyd is dus korter vir die koekies met ‘n gaatjie in die middel.

Plaas die koekies op yskoue bakplate en verkoel dan vir 10 minute voordat jy bak. Hierdie verkoeling (van toepassing op alle koekies) verseker dat koekies mooi egalige hoogte bak en nie plat gaan.

Bak die koekies vir 15 tot 20 mintue afhangend van die grootte. Trek dadelik die Teflon mat van die bakplaat af en laat die koekies afkoel vir 5 minute en skuif koekies oor na koelrakkies.

Smeer dan van die jellie op die basis koekie en druk op mekaar. Vul die holte verder op indien verkies en sprinkel met versiersuiker.

Wenk: jy kan die Botterversiersel gebruik om die koekie op mekaar te plak en dan die gaatjie met konfyt op te vul.

Bron: Annelien Pienaar, www.annelienpienaar.co.za 2021
Hoeveelheid: 24 koekies.