Het jy al ooit gesoek na ‘n dood gewone botterversiersel resep wat proe soos ‘n droom, soek nie verder nie. Hierdie resep kan aangepas word vir vanielje of sjokolade versiersel. Ek gebruik tans net botter of Spar 80% vet inhoud margarien, Stork bake maar die geel 80% vet inhou, die wit raak pap of wit Wooedenspoon. Botter is net so duur dat ek deesdae maar by laas genoemde hou.

Indien jy ‘n perfekte wit versiersel wil verkry word Holsum of Woodenspoon wit voorgestel om as smeer te gebruik. Ek het egter met jare se ervaring geleer: as jy gewone 80% vet inhoud bakkersmargarien neem en klits vir ongeveer 5-8 minute voordat jy die versiersuiker byvoeg, die kleur ligter word, klits na byvoeging weer ongeveer 5-8 minute totdat die versiersel van lig geel na wit verander het.  Voeg 1 druppel Violet gel kleursel by om die wit in die versiersel te verder te versterk. Een woord van waarskuwing as dit by die gebruik van kleursels en geursels kom. Deesdae word daar verskeie soorte middels ingevoer. Maak seker indien jy ‘n nuwe soort (nie die wat in die kettingwinkels is) gebruik dat jy proe soos jy werk. Die gel kleure is baie sterk en dus moet jy letterlik druppel vir druppel byvoeg totdat die regte kleur verkry is. Die geursels is ook so gekonsentreerd dat jy ook liefs moet proe soos jy werk. Meeste is nou in olie vorm en baie baie sterk in smaak.

WEnk: gebruik eierwit poeier (actiwhite beskikbaar by bakkerswinkels en ook aanlyn by take a lot ens) om die mengsel meer “fluffy” en fluweelagtig te maak. Die eierwit poeier moet gemeld word aan kliente vir moontlike allergiese reaksies. Hierdie poeier is gepasteuriseer en gedroog met hitte. Dus is dit nie rou onbehandelde eierwitte, beter opsie as om ROU eierwitte by te voeg soos die Amerikaners doen. Voeg dit by die margarien fase en klits goed deur.

Volgende wenk: indien jy daardie glansende blink versiersel wil kry vir afronding en piping…verhit die helfte van jou versiersel in die mikrogolf vir 60 sekondes MAAR maak seker jy stop elke 15 sekondes, die mengsel moet slap wees maar nie loperig. Dit sal ‘n satyn afwerking gee. Meng weer met die res van die versiersel met die hand deur ‘n plastiek spaan te gebruik.

1-2 t eierwit poeier per hierdie resep (opsioneel)

200 g Margarien, “bake” soort – kamer temperatuur
500 g Versiersuiker plus 50 ml kakao (indien jy sjokolade kleur wil maak)
50 ml Melk
10-20 ml Vanielje geursel of geursel van keuse-
Kleursel van keuse – voeg by soos verlang

Room die botter tot lig en donsig, voeg die versiersuiker en melk by en  klits baie goed deur totdat dit lig en romerig voorkom. Indien jy sjokolade versiersuiker wil maak voeg dan by lg stap die kakao saam met die versiersuiker gesif by.

Voeg nou die geursel en kleursel by.

HOEVEELHEID: Genoeg vir 2 laag koek om bo en kante asook tussen die lae te versier.

BRON: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2015