Daar is iets betowerend aan die geur van vars gebakte Rots skonsies wat deur die kombuis fladder, ’n sagte fluistering van kindertyd, van Saterdagoggende by Ouma se tafel en van klein handjies wat ongeduldig wag vir die eerste hap.

Hierdie klassieke “Rock Buns” is eenvoudig, huislik en onlosmaaklik deel van die herinneringe wat ons dra: die krummelrige randjies, die sagte middel en die soet happies sultanas wat elke mondvol laat glimlag. Dis die soort baksel wat jy maak wanneer jy smag na iets warm, troostend en vry van pretensie—iets wat jou vir ’n oomblik terugvat na waar alles nog eenvoudig was.

Variasies: gekapte kersies, sitrus skil, koek vrugte…vele meer!

Bestanddele
600 g koekmeel
3 teelepels bakpoeier
160 g wit suiker (plus ekstra om oor te strooi ná bak; ghranolade of strooisuiker kan gebruik word)
knippie sout
1 teelepel gemengde speserye
300 g botter
400 g sultanas (of enige ander gedroogde vrugte)
2 groot eiers
60 ml melk (4 eetlepels)

Metode
Verhit die oond tot 190°C (of 170°C waaier).

Voeg die koekmeel, suker, bakpoeier, sout en gemengde speserye saam in ’n mengbak en roer goed deur met ’n draad klitser sodat die bestanddele eweredig versprei.

Voeg die botter by en vryf dit met jou vingerpunte in die droë mengsel in totdat dit soos broodkrummels lyk. Of verwerk in die voedsel verwerker.

Voeg die sultanas by en roer deur sodat dit eweredig versprei is.

Klits die eiers en melk in ’n aparte bak. Voeg die geklitste mengsel by die droë bestanddele en gebruik ’n vurk om te meng totdat dit taai word en saamkom as ’n deeg. Presies soos vir skons maak.

Neem ’n roomys skepper met ’n druk meganisme en meet so die rots skonsies af. Jy kan enige groote maak.

Plaas die rots skonsies op ’n bakplaat, met spasie tussen hulle, aangesien hulle effens sal uit pof tydens bak.

Bak vir 15–20 minute by 190°C (170°C waaier) totdat dit goudbruin is.

Verwyder uit die oond. Hulle sal nog ’n bietjie sag voel — dit is normaal. Hulle word stewiger terwyl hulle afkoel.

Wanneer dit koel genoeg is om te hanteer, plaas op ’n draadrak om verder af te koel.

Strooi ekstra versiersuiker oor en bedien.

Geniet warm, of laat heeltemal afkoel en bêre in ’n lugdigte houer tot benodig.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2003