Ek dink Cake- en Icicle pops is ‘n resep wat deur ‘n desperate ma in middernagtelike ure geskep was…want wat maak jy met koek wat flop? Ek het wel paar resepte al probeer maar nooit iets gevind wat nie te soet is, nie te dig en wurgend, maar klam, geurig en smelt in die mond lekker.

Hier is my “points to ponder on”:
1. Ou droë koek is nie geskik!
2. Koek wat gevries was en goed verpak is is perfek ook vir hierdie doel.

Smaak: onthou dat jy altyd ingedagte moet hou om kleure en geure te komplimenteer. Soos blou sal aarbei ‘n baie verwarrende smaak wees…pienk en aarbei…bruin en rum/karamel/koffie ens…doen navorsing oor geure en kleure wat werk.

Hierdie resep werk so effens anders as ‘n normale resep en ek gaan die resepte wat betrekking het vir jul in rooi gemerk plaas en as jy op die klik sal dit jou herlei na die relevante resepte en dan kan jy die proses begin en begin met voorbereidings.

Smelt van sjokolade: breek sjokolade in kleiner stukkies of kap dit op, of gebruik die dun ronde skyfies geskik vir smelt werk. Plaas die stukke in glasbak en smelt vir 15 sekondes in mikrogolf, stop, meng, draai vir 15 sekondes en hou so aan totdat die sjokolade gesmelt is. Sjokolade mag nooit kook of oor 50 C verhit word anders mag dit skif en die proses is onomkeerbaar.

Kleur van sjokolade: poeiers is meer geskik as gels (want die vog in gel’s laat die sjokolade skif). Om dan poeiers te gebruik, hidreer dit deur eers dit met baie min, letterlik ‘n kwart teelepel sonneblom olie (kookolie) te meng. Daarna voeg jy die kleursel by die sjokolade.

1 x Basiese Botterkoek basis, kamertemperatuur, fyn gemaak soos brood krummels.
150 g Botterversiersel, hierdie resep is vrieskas vriendelik. Druk lug uit sakkie en vries.
250 g Bakkers sjokolade, kleur van keuse (sien nota oor kleur van wit sjokolade)
5 ml geursel na smaak
Kleursel na smaak

Ekstra sjokolade om te smelt om die cake pops in te doop en of om die vorms van die Iciclepops mee uit te verf.

Cake pops
1. Meng die gekrummelde koek, botter versiersel en gesmelte sjokolade saam. Die mengsel moet aan mekaar kom en een groot bal vorm, die kante van die bak moet skoon wees. Indien dit nie werk, kan jy so 2 e melk byvoeg om die mengsel te bind. Maar voordat jy dit doen maak seker as jy ‘n hopie van die koekmengsel neem en met jou hand druk, die mengsel by kemaar bly en maklik soos ‘n frikkadel rol sonder om te breek.

2. Die grootte van elke bolletjie is persoonlike smaak maar ek beveel aan om te werk op 30-50 g per balletjie wat jy vorm, 2 x 15 ml lepels is ‘n goeie begin. Onthou met die doop van die balletjies in die sjokolade vorm dit nog ‘n laag en maak die bal groter. Weeg eers en of meet al die balletjies af. Begin dan om die balletjies perfek rond te rol. Plaas op ‘n metaal bakplaat en vries tot hard vir 2 ure. Haal die balletjies uit en rol weer om dit hierdie keer perfek rond te kry. Vries weer vir 2 ure of verkieslik oornag.

3. Wenk: ek maak soms sommer honderde balletjies en hou dit in die vrieskas in ‘n bak goed bedek en doop en gebruik soos nodig.

4. Die volgende dag, smelt genoeg sjokolade, ongeveer 350 g en maak seker jy giet dit in ‘n glas! Ja dan gebruik jy minder sjokolade en spaar ook so. Maak seker die glas is warm deur dit in warm kraan water te doop…goed af te droog. Lees asb die nota hier bo oor die kleur van wit sjokolade.

5. Haal die bevrore balle uit die vrieskas. Laat dit vir 5 min net klimatiseer…en dan, neem cakepop stokkies en steek dit in die balletjies. Jy sal merk dat daar ‘n plat kant is op die balletjie soos dit gerus het op die plaat. Jy steek die stokkie hier in en druk dit tot halfpad deur. Dit is nie nodig om die stokkies vooraf in sjokolade te doop, want die balle is gevries en die stokkie sal perfek klou as dit om gedop word om in die glas te gaan. Maak net seker jy druk die stokkie stewig in.

6. Hoe hou mens cakepops regop sonder duur toerusting? Neem ‘n koekpan en trek dit eers oor met ‘n laag foelie. Laat die foelie oor die kante hang sommer sulke lang stukke. Vul op met rys of bone, rys werk beter…Dan so 4 vingers van bo die koekpan se rand, druk dan stukke liggies op gefrommelde foelie op en vou dit toe met die langpante van die foelie wat oorhang. Dit sal dan soos ‘n basis dien om die stokkies regop te hou. Steek met ‘n sosatie stok gate vooraf in!

7. Druk die stokkie met die balletjie loodreg af in die glas totdat jy sien die balletjie verdwyn tot by die basis. Trek uit en dan…laat die sjokolade effe drup met die steeltjie horisontaal gehou en jy draai die heeltyd sodat die sjokolade eweredig versprei vir twee tellings. Soos jy draai lig die stokkie sodat die straaltjie wat vorm dan afwaarts na die steeltjie geweeg en hou net aan om liggies te draai totdat jy merk die drup stop. Jy kan ‘n messie neem en dan net die basis skoon skraap waar die steel deel in kom vir ‘n skoon steel. Anders los om goed te set en dan skoon te maak of ‘n strikkie oor te sit.

Icecle pops
Hierdie kan jy op twee maniere doen en ek verkies om die maklike pad te neem en te kroek want ek het eenvoudig NIE geduld om silikoon vormpies uit te verf met sjokolade, dit te laat set en weer ‘n laag te doen. Ek volg die vorm stappe van die Cake pops en druk die mengsel in die vormpie in, steek die stokkie ook saam in, maak seker al die beslag is GOED vas gedruk. Vries die gedoente vir 4 ure, haal uit en vries verder, onbedek is reg. Volgende dag doen jy presies dieselfde soos vir die Cake pops se doopwerk. MAAR as jy die langpad wil volg en die ander proses wil doen hier is dit en lees fyn!

1. Neem ‘n silikoon vorm wat skoon is, en by kamertemperatuur is. Moenie die mould verkoel nie dit sal die smeer van die gesmelte sjokolade bemoeilik en klontjies maak.
2. Smelt sjokolade soos in die teks hier bo verduidelik, kleur dit en begin om die moulds met dit liggies uit te verf. Jy kan wel die sjokolade giet maar dit mors verskriklik en ek verkies ‘n klein gewone verfkwassie. Onthou om hier op ‘n bakplaat te werk want as die mould eers set dan kraak dit as jy dit optel. Dus hou die mould gestut direk op ‘n bakplaat. Vries die mould en na 20 min verf weer ‘n lagie sjokolade en verkoel 5 minute.
3. Nou hier is waar ek al baie gevloek het en toe maar ‘n ander plan gemaak het. Die indruk van die vulsel is soms ‘n probleem en dit kan die sjokolade in die mould laat kraak. As die sjokolade wel geset het, lig die mould op en sit dit op ‘n handdoek. Die handdoek sal so bietjie help met mee gee en minder krakies wat mag gebeur. Druk die vulsel in en steek ‘n roomys stokkie deur die gleufie tot so ‘n derde diep in.
4. Los ‘n 3 mm spasie vir die gesmelte sjokolade om die die koekmengsel te bedek. Trek die sjokolade reguit met ‘n deegskraper en vries vir 2 ure. Haal uit ontvorm en versier.

Bron: www.annelienpienaar.co.za uitteksel uit Cakepops en Icicle werkswinkel, 2016
Hoeveelheid: 50-60 balle 25-30 stokkies