Ek dink almal van ons soek na die perfekte koek resepte. Daardie een resep wat jy vir amper alle koeke wat jy wil bak kan gebruik. Botterkoek basis koeke, ook genoem Bundt of Pound cakes…. is dig en sterk in struktuur wat beloof om nie te krummel sou jy ‘n sculpted koek bak. Hierdie resep het ek jare gelede vir my studente in die Voedseldiens bestuur klas ontwikkel en sederdien al deur gebak! Dus hierdie koek is gemaak om gewig te kan dra vir goed soos troukoeke ens. Maar as jy fyn beplan kan hierdie koek heerlik klam en sponsig wees deur slim met strope te werk te gaan.
Ek deel met julle hier ‘n heerlike en maklike stroop resep vir koeke wat in lae gesny gaan word. Jy kan hierdie stroop ook self geur met enige geursel na jou smaak. Dink uit die “boks” deur in die warm stroop ‘n kaneelstok te laat kook en af te koel, of wat van ‘n hand vol heerlike gegeurde koffiebone, sitrus skil? Dus is die geure legio, selfs die byvoeging van alkohol van jou keuse na smaak…of koek geursels. Die basis resep vir die stroop kan vooraf gemaak word en dan in die yskas gestoor word. Lees meer oor die onderwerp in my Boerekos met ‘n Twist kookboek.
Hierdie koekbasis is ook perfek om swaar bestanddele soos sjokolade splinters, bessies en vele meer in suspesie te hou sonder dat dit na onder sak. Ons bak gereeld die “Miertjie” koek deur ‘n halwe koppie vermicilli of 100’s en 1000’s in die beslag te voeg vir n interessante effek en ook meer smaak tov die gesmelte sjokolade stukkies.
Ek hoop hierdie gaan jou gunsteling resep word, soos dit vir my al die afgelope jare was. Vir ‘n Sjokolade weergawe moet jy 60 g koekmeel uit haal en met 60 g kakao vervang.
Wenk: eendag op ‘n reëndag stuur ek vir my sussie hierdie resep se bestanddele lys vir haar om seker te maak as ek gou oorgaan na haar huis, dat sy alles het. Ek het ‘n krisis op die plaas en kan nie die afspraak maak en sou die volgende oggend inloer. Die volgende oggend kry ek ‘n foto van ‘n MANJEFIEKE mooi koek wat sy gebak het met MY resep. Die briefie lui soos volg: “Waar was jy my lewe lank sus met hierdie resep? Ek het alles soos jy aangedui het op die lysie in die bak gegooi…eers droog alles saam soos ma ons geleer het, gat in die middel en die res van die bestanddele. Ek het die Kenwood op 3 gesit en vir 10 minute geklits tot glad. In my lewe nog nie so ‘n maklike resep gehad. Dankie liefde Maai”. Wel soos julle kan dink het ek amper ‘n paar hartaanvalle gehad…elke geval, vandat sy dit so gedoen het, doen ek dit ook en eerlikwaar??? Teen my eie beterwete, werk dit soos ‘n droom en ek het beidekante toe getoets en raai wat, die koek kom dieselfde uit. Ek en my sussie lag nou nog oor die oeps wat ‘n blessing geword het. Ek wil egter waarsku, dit werk NIE met gewone sponskoeke waar eierwitte geskei en ingevou moet word en ook waar botter afwesig is.
400 g koekmeel
400 g witsuiker
15 ml (1 e) bakpoeier
1.5 ml t (1/4 t)koeksoda
2.5 ml (1/2 t )sout
250 g botter, blokkies gesny en by kamertemperatuur
15 ml (1 e) vanilla of enige ander geursel
300 g volroom melk
100 g sonneblom olie
4 large eggs
Meng al die droe bestanddele saam. Neem die botter en voeg dit by die meel en meng totdat die botter goed in gemeng is en die meel mengsel soos sandsuiker. Ek vind hier werk die K haak nogal goed van staan mengers. Anders vir gewone elektriese twee vlerk mengers, werk dit perfek. Hou net aan om die botter fyn te breek. Jy kan hier selfs as jy nie ‘n menger het dit per hand doen!
Meng die melk, olie, eiers en geursel saam en klits goed deur. Voeg die melk mengsel in drie dele by die mengsel en klits goed deur tot glad en dik. Werk met die volgende staanmengers Kenwood op stelling 3 en Kitchenaid stelling 4. MOENIE die mengsel oor meng nie asb. Sodra die mengsel glad is, is dit gereed vir uitskep en bak.
Bak by 170C. Vir 20 cm koeke 30 minute, 25 cm koeke 40-45 min, halwe broodjies 35 min en vir kolwyntjies 25-30 min.
Stroop
1 k suiker
1 ½ k water
Knippie sitroen suur (citric acid)
Plaas bestanddele in vuurvaste glasbak en kook in mikrogolf vir 2 min, roer en kook vir nog 5 min. Koel af en plaas in spuit kan. Gebruik om koeke nadat dit gebak het se krummel laag te seel voordat dit met versiersel bedek word.
Stroop word op koeklae aangewend as koeke koud is en stroop ook koud. Jy kan bepaal hoe klam die koek moet wees.
Wenk: Hierdie resep is ook geskik vir Cake en Icecle pops!
Hoeveelheid: 2 x 20 cm en 2 x 25 cm platter koeke en alles kan in lae gesny word. Die resep verdubbel perfek. Koek is ook vrieskas vriendelik.
Bron: www.annelienpienaar.co.za, deur Annelien Pienaar 1996