Ek dink almal van ons is dit eens, kondensmelk is DUUR en dit is goud werd in elke huis. Ek het bietjie gaan somme maak, heerlik getoets in die kombuis en hier is dit nou. ‘n Vinnige manier om jou eie kondensmelk te maak met ‘n kortpad manier. Let wel, daar is by die volgende skakel die egte kondensmelk gekook met melk en suiker. Loer gerus deur hier te klik!

100 g (1 k) melkpoeier (volroom verkieslik)
105 g (1/2 k) strooisuiker
1/4 t koeksoda
125 ml (1/2 k) water

Meng al die bestanddele saam en giet in ‘n vuurvaste mikrogolf veilige bak.

Plaas in die mikrogolf oond by 100% krag en draai vir 1 minuut en roer goed deur. Hou so aan vir elke minuut totdat die mengsel verdik het. Dit is baie belangrik dat die mengsel elke minuut geroer word anders brand dit en word diep karamel kleur.

Dit sal ongeveer 5-8 minute neem vir die vog om genoegsaam te verdamp en ‘n verdikte mengsel te los.

Koek goed af voor gebruik. Indien die mengsel nie dik genoeg is as dit afgekoel het, kan dit weer verhit word deur 30 sekondes te verhit en te roer, herhaal en hou so aan tot genoegsaam verdik.

Bottel in warm gesteriliseerde fles op die rak vir 24 maande.

Wenk: KARAMEL maak: Plaas die kondensmelk in ‘n gesteriliseerde glasbotteltjie met dig passende deksel in ‘n slowcooker en kook op high vir 6 ure. Jy kan dadelik sien as die karamel die regte kleur is en meer nog, jy kan korter of langer kook om dik of dun karamel te maak.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar, 2019
Hoeveelheid: genoeg om 1 standaard blikkie kondensmelk te lewer van ongeveer 385g.