My gesin is baie lief vir vars eet. Dus is daar altyd een of ander groente of vrug uit my tuine wat in hierdie ligte ete of slaai gebruik word. Jy besluit dus op die slaai komponente wat in gaan. Vir my is daar niks so lekker soos ‘n kersie tamatie, pynappel, appel, neute, komkommer, vars etjies met skil so op gekap en vele meer. Wees kreatief met jou kombinasies. Wat hierdie slaai so heerlik maak is die sappige hoender borsies en ook die koring wat saam bedien word. Die slaaisous rond hierdie gereg perfek af. ‘n Kompakte gereg met heerlike geure.

WEnke: Die hoender kan in grootmaat op ‘n Sondag berei word en tot Vrydag goed in die yskas hou, so ook vir die res van die bestanddele. Hierdie slaai kan dan in ‘n kits saam gemeng word vir ‘n heerlike ete. Dit kan koud of warm bedien word.

Koring 
500 g pêrelgort
1 liter water
1 aftreksel blokkie
5 e sonneblom olie

Plaas die pêrelgort in ‘n kastrol en spoel dit eers met water om die stysel te verwyder soos in die geval van rys kook. Daarna boeg al die bestanddele saam behalwe 3 e van die olie. Kook die koring tot dit net begin sag voel as jy dit byt. Spoel die koring dan met warm water en dreineer. Voeg weer 1 k warm water by en die res van die olie. Kook met deksel totdat die korrels uit gepof het, dreineer en laat goed afkoel.

Wenk: die koring kan gevries word in kleiner porsies en so verlaag jy die GI en is gesonder om later so te eet.

Hoender
6 hoenderborsies
2 e gerookte paprika
4 e botter
4 e sonneblom olie
1 aftreksel blokkie
500 ml kookwater

Smeer hoenderborsies met die gerookte paprika in en neem ‘n bietjie van die olie om die invryf te vergemaklik. Verhit stoom drukkoker se binne pot om die hoender borsies net vinnig te verbruin. Plaas die olie en botter in en verbruin vinnig die borsies. Voeg die aftreksel blokkie en water by en stoom vir 20 minute. Hierdie tegniek sal ‘n sappige borsie lewer. Sodra die borsie gaar is, haal uit die drukkoker en laat afkoel.

Roerbraai groente
1 groen of rooi soetrissie, fyn gekap
1 groot ui, fyn gekap
1 wortel fyn gekap
1 seldery stingel fyn gekap
2 k tuin ertjies (snap peas), in die lengte gesny in vuurhoutjie dun repies
2 k sampioene, skyfies
5 e olyf olie
2 e groente sout uit die Boerekos met ‘n Twist kookboek.

Roerbraai hierdie groente net tot glansend en hou eenkant.  Sprinkel met die groente sout.

Slaaisous
250 ml balsamiese asyn of sherry asyn
3 e fyn dijon mosterd
250 ml sonneblom olie
5 e heuning
1 e treacle suiker of muscavado of demarera
1/2 t sout
1 t knoffel
1 t gedroogde dille of tiemie

Indien jy ‘n Bamix blende stok het is jy in vir ‘n groot bederf. Omdat die Bamix se lem so vinnig draai is dit ook die perfekte stukkie gereedskap om hierdie sous nie net te meng maar te transformeer in ‘n emulsie: in kort ‘n romerige sous wat nie sal skei. Loer gerus in my winekltjie waar ek die verskillende grootte Bamix blender stokke verkoop.

Plaas as die bestanddele in ‘n lang glas bottel en verwerk met die blender stok tot ‘n eenvormige massa en as jy nie ‘n blender stokkie het, kan jy die bottel net voor bediening skud om te meng.

Afronding van gereg
Skep al die bestanddele in lae op mekaar en begin by die koring en voltooi met die hoender. Giet slaaisous soveel jy wil oor en geniet!

Bron: Annelien Pienaar, 2020, www.annelienpienaar.co.za
Hoeveelheid: 6 porsies