Aartappel suurdeeg is onder benut. Hierdie manier van water fermenteer en die vog onttrek is perfek om beskuit mee te bak…maar ook enige soort brood wat moet lank rys met natuurlike giste en bakterië.
Verder kan die beskuit resep verdubbel word met gemak. Die deeg is perfek om ook brood mee te bak asook kaneel rolletjies (cinnamon rolls)
300 g (1 ½ k) wit suiker
230 g (1 k) botter, gesmelt
300 g/ml water (lou)
750 ml (3 k) karringmelk of amazi by kamertemperatuur (ek verkies amazi)
1.5 kg (10 ¾ k) koekmeel, gesif
15 ml sout
10 g kits gis, kamertemperatuur (opsioneel, dit beteken as jy haastig is, kan gis by gevoeg word, anders werk hierdie deeg oornag of 24 uur afhangend van die seisoen).
5 ml koeksoda (die funksie van hierdie bestanddeel is om die deeg sagter te maak en meer ‘n veertjie effek te gee. Verder hou dit die beskuit tekstuur ook mooi wit).
2 e anys (opsioneel)
Aartapel plantjie: 24 uur voor die tyd rasper ‘n aartappel grof op en neem 1 e suiker uit die resep en meng met die aartappel plus ‘n knippie sout en 1 k van die meng water en letterlik twee knippies gis. Plaas hierdie mengsel in ‘n groot glas fles van ongeveer 750 ml. Bedek met ‘n lappie en laat dit dan goed gis, jy sal merk die vog lyk soos sodawater vol borreltjies. Dreineer die vog deur ‘n stukkie gaasdoek of sif. Druk alle vog so goed moontlik uit. Die aartappel stukkies kan vir rosti’s gebruik word of kompos. Gebruik die vog om die beskuit mee aan te maak. Hierdie vog dien dus as die rysmiddel.
Onthou asb. dat as dit winter is, jy die mengsel in ‘n warm plekkie moet plaas. Geen direkte son. Jy kan ‘n koelhouer eers vooraf warm maak met warm water, dit uit giet en die aartappel plantjie daarin sit. Onthou hier werk ons nou met lewende mikrobes so hulle is sensitief en moet altyd teen liggaam temperatuur gehou word, NIE kamertemperatuur. 27C tot 36C is perfek.
Meng die res van die droë bestanddele saam en giet die res van die nat bestanddele in die middel daarvan. Knie die deeg tot baie glad en elasties. Laat die deeg weer op ‘n warm plek tot dubbel die volume rys. Indien jy besluit om sonder die gis te bak, gaan dit oornag moet rus om lewe te kry. In die somer mag dit dalk vinniger gaan.
Knie die deeg weer af en vorm dan 80 g balletjies. Hierdie grootte is die perfekte grootte om panne te vul om mooi hoog te rys, nie te styf te pas. Hierdie is persoonlike smaak en jy kan self hier besluit oor gewig.
Laat dan weer verdubbel in volume. Onthou die gesprek in die klas rakende oorrys van deeg en dan val die beskuit plat.
Bak die beskuit teen 170C vir 70 minute.
WEnk: Wanneer die pannetjies gepak word sit ‘n vuurhoutjie dosie onder die pan sodat dit met ‘n helling gepak word. Druk die bolletjies effens styf teen mekaar in sodat dit nie meer perfek rond vertoon…effense ovaal vorm. Maak hier asb seker dat jy kyk hoe hoog jou beskuit in die pan lê. Verdubbel hierdie hoogte sodat jy weet wanneer die deeg verdubbel het en gereed is om te bak. Moet nooit die fout maak en wag dat die pan vol rys nie, die beskuit mag oor rys en as dit in die oond nog verder uit rys, plat val omdat die gluten raamwerk sal platval. Laat dus die deeg weer bedek met gesmeerde plastiek rys tot dubbel die volume.
Bron: www.annelienpienaar.co.za Annelien Pienaar, 2020-05-30
Hoeveelheid: 40-60 stukkies beskuit.