Hierdie is ‘n wonderlike en vinnige gereg om te maak want die rou frikkadelletjies kan in die afgekoelde pastasous gevries word en dan later gaar gemaak word in die oond, mikrogolf oond of op die stoofplaat. Die perfekte plan vir vrieskaskos.

Pasta sous
1 kg vars tamaties, blansjeer (wanneer tamaties in kookwater gedompel word sodoende die velletjies te laat los kom. Dompel tamaties vir 1 minuut in die kokende water. Skep uit en plaas in koue water en trek die skilletjies af. Kap die tamaties grof of fyn soos jy verkies.
3 groot uie, in ringe gesny
4 e olyfolie
2 e botter
1 knoffeltoontjie
2 e bruinsuiker
50 ml tamatiepuree
1 t kerrie poeier (klik op skakel vir ‘n resep om eie kerrie poeier te maak)
1 t mosterd poeier
1 t mielieblom in 50 ml asyn aangemaak
3 vars koljander (cilantro, coriander) blaar takkies (opsioneel indien die smaak jou nie geval) vervang dan met 10 basillie kruid (basil) blare

Vir hierdie metode moet die uie stadig gebraai word met die deksel op. Dit verseker heerlike sagte, soet uie. Indien jy verkies kan die growwe stukke uie fyn gekap word. Dit is persoonlike keuse. Dus, smelt die botter saam met die olyfolie oor matige hitte. Voeg die uie by en braai vir ongeveer 5 minute met die deksel toe en roer van tyd tot tyd. Voeg die knoffel by en braai dan 1 minuut sonder die deksel.

Voeg al die bestanddele behalwe die aangemaakte mielieblom en vars kruie, by die uie en kook matig sonder deksel vir 20 minute totdat die sous verminder het. Voeg die mielieblom mengsel by en kook vir 5 minute goed deur.

Geur met sout en peper na smaak…hou eenkant om af te koel. Sodra koud roer die gekapte blare by.

Frikkadelle
3 bruinbrood snye geweek in warm melk van 125ml (die warm melk laat die brood die vog dadelik opneem en sag word
1 medium aartappel, fyn gerasper
1 kg maalvleis
1 ui, fyn gekap
1 eier, geklits
1 knoffel toontjie, fyn gedruk
¼ k woestersous
2 e groente sous uit die Boerekos met ‘n Twist kookboek p. 211 of 1 t gewone sout

Week die brood vooraf en laat afkoel. Meng dan al die bestanddele saam. Weeg 50 gram balletjies af en rol met hande wat in water nat gemaak word om perfek te kry. Plaas die balletjies in ‘n kastrol of oond bak wat geskik is vir mikrogolf of oond bak.

Giet die pastasous oor die rou frikkadelletjies en maak soos volg gaar:
Mikrogolf: 8-10 minute by vol krag
Oond bak: 180 C vir 30 minute bedek en dan 15 minute onbedek
Panbraai: matige hitte vir plate soos gas, induksie, spiraal of soliede plate vir ongeveer 20 minute bedek en dan 5 minute onbedek. Kook die pasta sodra 10 minute gaarmaaktyd vir die vleis oorbly.

Pasta
500 g spaghetti
50 ml olyfolie
5 ml sout

Voeg 3 liter water in ‘n diep kastrol en bring tot kookpunt. Voeg sout en olyf olie by en roer deur. Voeg die pasta by en roer vir 2 minute sodat die pasta nie aan die bodem van die kastrol vas sit. Kook die pasta vir 10 minute totdat dit sag maar tog ferm is as jy dit byt. Moenie die pasta pap kook nie.

Sodra die pasta gaar is: Spoel die pasta in ‘n vergittes / kolander onder warm kraan water. Plaas pasta in aparte bak en bedruip weer met 5 e olyfolie en roer deur sodat die pasta nie aan mekaar vaskleef. Bedek om warm te bly.

Bron: Annelien Pienaar, 2018, Idees vir Vrieskaskos

Hoeveelheid: 6 porsies