BKT Klets-kombuis

BKT Klets-kombuis

Photo by: Annelien Pienaar Food Consultant (www.annelienpienaar.co.za)

Hallo Twister.

Baie dankie dat jy so heerlik saam Twist. In die gees van die afgelope Pase het hierdie skrywe van my weer verskyn danksy Faceboek wat my herinner het. Ek deel graag met julle die volgende.

“April 13, 2017 •
Vandag het sommer heerlik begin met die reëntjie wat ons so verras het. Ek het besef daar is hoop vir ons land…ons boere wat op die plase is en ons werkers is familie en ken mekaar so goed. My positiewe gedagte vir Paasfees!

Ek het ook ‘n bietjie rondgeloop en by my ander ma gaan kuier. Haar naam is Joyce Mokone. Ek ken haar al vir 38 jaar lank…dit is hoe lank sy deel is van die Bezuidenhout gesin. Dierbare mens…sy het ons groot gemaak as ma gaan werk het, sy het ons gebad as ma laat aand met af-vlerk mense moes help. Elke geheim en avontuur op die plaas het sy van geweet…en soms gekeer dat ons velle waai! Sy was altyd moeder se skaduwee en haar help versorg tot sy haar laaste asem op die plaas uit geblaas het.. Sy kon lees, sy kon skryf, sy kon kook en sy kon raas…liefde gee en ja, saam ons bid. Sy is arm maar ook ryk, in die sin dat Joyce ook haar gemeenskap dien soos moeder haar geleer het. Sy is by die “Society” die voorvrou en sy kook 50 liter potte asof dit speletjies is. Sy het haar eie markies tent gekoop wat sy uit verhuur vir funksies en wel Lethlabile weet wie koko Joyce is.

Sy het ‘n komieklike klein lyfie! Sy was vet totdat sy “sugar diabetics” gekry het en die “high blood”, nou is sy mooi skraal…maar die skadu’s van siek wees sit onder haar oë, sy praat nie daaroor nie. My Filistyne het nie geweet sy kom by my sus kuier. Toe hulle haar sien tel ouboet haar op en gee haar ‘n groot druk met die woorde wat oor haar kop vlieg: “…ouma Joyce, jy moet vir “moeg-gepraat” gaan haal, my ma, sy is te kwaai met ons. Ons moet self kos maak en bed opmaak, ja en bad was!” Ouma Joyce se swart gelaat met die groot wit oë vertrek van lekker kry en vra my net: ”Anna, nou wat se stories hoor ek, ek en jou ma het jou mos nie so groot gemaak!” Dan vra sy op haar beurt weer vir ouboet Filistyn: “…jy onthou nog van die rooi kar wat jy vir my gaan koop as jy ryk is?” So kom die antwoord heel bekkig terug van Rooi Filistyn: “Ouma Joyce, jy is so kort dat ‘n krat jou nie sal help om oor die stuurwiel te sien. Ons sal vir jou ’n Taxi drywer moet kry!” Sy lag lekker sodat haar wange op en af hop.

Dan gaan ek nader vir daardie groot stywe druk, die druk wat ek maande lankal so nodig het. Die laaste skakel met ‘n ma…my swart ma! Die trane begin diep in my keel en dan pyn-brand my bors en ek huil sommer net. Al wat ouma Joyce uitkry is: “Ai my nooientjie Anna ek weet, ek mis haar ook, moenie huil nie…sy is by ons”. Ek hou haar net so styf vas totdat die asem weer terug is in my bors. Sy vee my gesig so met die hand af en klap die tong. Sy maak vir my tee, soet tee, sy weet ek hou nie van suiker, maar sy gooi die tee toe! Ek vertel haar van my boek, haar aandeel met die onthou van elke resep. Sy is ‘n lopende ensiklopedie van Hantie se kookwerk. Sy kan elke gram en mℓ onthou, ‘’n knippie, knypie, grypie… Ons gesêls verder oor die kinders, wat sy doen elke dag, haar eie kleinkinders wat sy nou groot maak. Hoe sy spook om hulle drie tale te leer. Sy is heel bekkig want as sy met die skepseltjies raas, dan doen sy in Afrikaans. Dan vra hulle sy moet weer in die snaakse taal praat en leer hulle heel oulik.

Ons praat oor Paasbolletjies van ma en haar geurige Kerrievis met sy soet sousie. Hoe ek met die vingertjies altyd die uie uitgekrap het uit die vis en dit laaste geëet het omdat dit so lekker was. Ouma Joyce het geleer om die uie in dieselfde sousie vir my te maak en te bottel. As ek vakansies van Universiteit huis toe gekom het, was dit een botteltjie wat sy pad in my gestrykte klere se sak gevind het…wonder nou nog hoeveel botteltjies ek alleen opgeëet het! Lekker tye.

Dit was ‘n lekker dag van net weer bietjie in voeling kom met dit wat regtig saak maak. Mense wat jou lewe deel, wat eerlik en opreg is en jou toelaat om net jouself te wees. Mag elkeen van julle ook so ‘n plekkie vind waar jy net kan “wees” en Pase vir julle meer as net ‘’n langnaweek beteken. Samesyn, die deel van kos en dankbaar wees vir ons seëning hierdie Pase voorrang kry in almal se lewens.

Veilig wees!”

Resepte
Die volgende skakels neem julle direk na:
1. Blomkool Pizza  

2. Gepekelde Suurlemoene

3. Marokkanse Broodjie: Pide

4. Aartappel en Uie sop

Smaaklike etes Twisters!

Groete

Annelien

PS: Onthou BKT TV program elke Maandag aand om 18h00 op VIA, kanaal 147, herhalings deur die loop van die week en Sondae om 16h30!

2018-04-14T06:25:25+00:006 Comments

6 Comments

  1. Vasthi April 14, 2018 at 5:47 am - Reply

    Ag dis so mooi geskryf! Ek is sommer saam by die ruïne! Dankie Annelien – kosbaar en baie seën!

    Vasthi

    • Annelien April 14, 2018 at 6:27 am - Reply

      Dankie en mag jy altyd lank saam Twist. BKT groete Annelien

  2. Hanli Parsons April 14, 2018 at 7:36 am - Reply

    Ai hoe geniet ek nou jou storie en ruk terug na my kinderdae op Paterson, in die Oos Kaap. Onse Lizzy Charlie en Noyongo kom Kruip in my hart in. Noyongo, wat as my broer op pas huistoe kom in sy dienspligjare, n koek bak en afgryslik groen versier. Niemand mag daaraan eet voor hy nie die eerste sny eet en die plesier op sy gesig wys nie. En as hy teruggaan word haar mince-pie in n bakkie gesit vir padkos.. En haar trane loop nes my ma sn as die bus vertrek. DINAMIESE VROUE eintlik, wat met daardie hand bysit ons lewens boekie n spesiale hoofstuk-twist gegee het.

    • Annelien April 14, 2018 at 5:14 pm - Reply

      Dankie vir die deel…ja, memories het gelukkig nie ‘n delete knoppie nie…dit maak ons wie ons is vandag…wenners. BKT groete Annelien

  3. Hester van Heerden April 14, 2018 at 11:41 am - Reply

    So lekker gelees! Baie dankie

    • Annelien April 14, 2018 at 5:15 pm - Reply

      Sommer baie bly die Nuusbrief word so geniet. Groete en goed gaan Annelien Pienaar

Leave A Comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.