
Photo by: Annelien Pienaar Food Consultant (www.annelienpienaar.co.za) Om die winter te trotseer en ook sommer vir voorraad reg deur die jaar, het mens altyd suurlemoene nodig. Waarvoor kan mens gepekelde, gefermenteerde suurlemoene gebruik? Die fyn gekapte skil of repies skil kan in marinades, doopsouse, stowe geregte en vele meer resepte gebruik word.
Hierdie suurlemoene se aanwending is oneindigbaar baie. Van skoonmaak van olierige oppervlaktes soos oonde, stowe, potte, panne, mengbakke, mengers tot ‘n blink wasbak. Verder snipper fyn in bredies, souse en soppe. Kom ons begin. Gebruik asb sout vry van jodium. Jodium maak mikrobes dood en dan kan die suurlemoene nie fermenteer. Hierdie fermentasie gee wonderlike probiotika.
Daar is egter nie ‘n presiese bestanddele lys vir hierdie sout suurlemoene nie, want vir elke suurlemoen wat jy gebruik moet daar 1 e of 15 ml medium growwe sout in die suurlemoen gestop word. Alle bottels en toerusting moet vooraf gesteriliseer word. Was bottel met seep en water, plaas in oond teen 120 ℃ vir 20 minute. Haal uit en laat afkoel. Moenie in die binnekant van die bottel raak of die deksel.
Kook ‘n kastrol met 5 liter water en blansjeer nooit meer as 5 suurlemoene op ‘n slag vir 5 minute. Hierdie proses doen twee goed: haal die bitter uit die skil en maak die skil sag sodat dit heerlik eetbaar is as dit gesnipper word. Onthou om in hierdie geval nie die suurlemoene af te koel in koue water soos die gebruik met blansjering is, maar laat afkoel sodat jy met die hand kan vat al is dit lou.
Draai die suurlemoen sodat die deel waar die stingel aan vas was na onder sodat die punt van die suurlemoen of lemmetjie na bo wys. Sny dan ‘n kruisie van ongeveer een vinger dikte diep. Druk die bekkie oop deur die agterkant van ‘n paplepel in die gaatjie te steek. Skep dan versigtig die sout binne in die suurlemoen. Plaas die suurlemoene regop in ‘n glas bak of glas bottel. Laat die suurlemoene dan vir 4 dae met ‘n digpassende deksel staan.
Jy sal elke dag sien dat die sap in die onderkant van die bottel meer word soos die sout begin werk. Die suurlemoene se skille word ook tydens hierdie proses baie, baie sag.
Daarna word die suurlemoene stywer in ‘n gesteriliseerde fles gedruk en dan met die sap van die fermentasie proses op gevul. Indien daar sap kort vul aan met nog suurlemoensap van vars of gebottelde suurlemoen of lemmetjie sap.
Hierdie suurlemoene kan 6-12 maande op die rak hou.
Loer gerus na die souse afdeling en ook die Vleis afdeling om in resepte te gebruik.
Vir skoonmaak doeleindes: Sny ‘n suurlemoen in die helfte en stop dit dan met 2-3 e koeksoda en 1 t medium growwe sout en suur die oppervlaktes wat jy wil behandel. Los dan vir ‘n uur en skuur met selfde suurlemoen weer en was dan met skottelgoed reiniger en water af.
Bron: Annelien Pienaar, 2018, Preservering klas 2017