Photo by: Annelien Pienaar Food Consultant (www.annelienpienaar.co.za)

Hierdie is ‘n ryk broodjie met olyfolie en botter wat in die beslag gebruik word. Die deeg is satyn sag en baie maklik om te hanteer. Ons as gesin geniet hierdie broodjie saam met kerrie geregte, souse, soppe en patee’s. My piekniekmandjie het hierdie broodjie al meer as een keer gesien en die Filistyne is eens, dit is hul gunsteling platbroodjie om te geniet.

10 g kitsgis
150 ml lou water
1 t heuning
450 g koekmeel
1 t sout
1 e olyfolie
1 e gesmelte botter
3 e karringmelk of gewone joghurt
1 eier, geklits
1 t Nigella sade, indien onverkrygbaar, sal papawersaad ook geskik wees

Meng die water en heuning saam. Sprinkel die kitsgis oor en laat vir 2 minute hidreer. Daarna roer om goed op te los en staan vir nog 5 minute totdat dit skuim.

Sif die kokemeel en sout saam, maak ‘n holte in die deeg en voeg die olie, botter en karringmelk by.

Giet die gis by en knie die deeg liggies totdat die nat en droe dele eweredig gemeng is. Laat rus 15 minute en knie die deeg dan tot satyn glad.

Bedek die deeg met ‘n klam lappie en rus vir 60 minute en knie af. Deel die deeg in twee en vorm balle. Rus die deeg weer 5 minute en rol in ‘n sirkel so groot soos ‘n klein bordjie uit. Rus weer vir 5 minute en druk dan van die middel na die kante sodat daar ‘n walletjie vorm.

Voorverhit oond na 180 ℃ en smeer ‘n bakplaat.

Laat die deeg dan 20 min bedek rys en smeer met die geklitsde eierwitte en sprinkel met sade. Bak vir 25-30 minute en bedien lou warm.

Bron: Annelien Pienaar, Indiense kookkuns klasse, 2015
Hoeveelheid: 8 porsies