
Photo by: Annelien Pienaar Food Consultant (www.annelienpienaar.co.za)
Aartappels en uie is stapelvoedsel in die Pienaar huishouding en soms moet mens maar kreatief raak om die mense aan die eet te hou! Daar word ‘n groot hoeveelheid uie in hierdie resep gebruik en dan baie stadig gebraai tot glansend, waarna dit in ‘n puree verwerk word. Met die byvoeging van ‘n paar kritiese geurmiddels word hierdie sop omgetower in ‘n resep wat almal aan die kuier kry…en bakke word boomskraap geëet! Ek het ‘n Mediterreense kinkel in die resep ingewerk. Brood op foto: Marokkaanse broodjie: Pide
6 medium aartappels, gaar en fyn gedruk
4 medium uie, fyn gekap
¼ k olyfolie
2 e botter
1 liter aftreksel: groente of hoender (wil kleur van sop lig hou)
250 ml suurroom
Knippie borrie
1 t seldery saad (loer by Woolies)
Knippie neutmuskaat
Sout na smaak
Perper na smaak
Braai die uie oor stadige hitte met die deksel op gemeng met olyfolie en botter. Voeg na 5 minute die kruie en speserye by. Braai die uie totdat dit sag en deursigtig is. Dit is die hele geheim van hierdie resep, die uie moet murg sag wees. Dit neem ongeveer so 15 minute.
In die tussentyd, maak die aartappels fyn en kook saam met die aftreksel oor matige hitte vir 10 minute.
Sodra die uie baie sag is, puree dit met ‘n voedsel verwerker of enige manier wat vir jou toeganklik is, deur ‘n sif vryf is ook perfek. Voeg die uie by die aartappel mengsel en roer tot glad.
Roer die suurroom by en proe vir sout en peper. Verdun die sop met bietjie water indien dit vir jou te dik is.
Bedien warm met n stukkie vars brood.
Wenk: Indien die suurroom vir jou te suur is, kan klapper room gebruik word of gewone room
Bron: Annelien Pienaar, Tuisskool onderrig kook klas 2017
Hoeveelheid: 6-8 porsies
Kan hierdie sop gevries word? Ek het hordes aartappels en wil dit graag verwerk vir latere gebruik
Mariska, ja hierdie sop vries goed. Groete Annelien