
Ek is nou een maal nie ‘n voorstander van soppoeiers en souse uit ‘’n pakkie nie. Dit is vol bestanddele wat nadelig is vir jou en jou gesin. Belê in jou familie se gesondheid deur alles self en vars voor te sit. In hierdie resep gaan jy geleer word om jou eie soppoeier te maak en in die yskas te hou vir latere gebruik.
Basiese soppoeier
250 g volroom melkpoeier
150 g koekmeel (kan met rysmeel vervang word vir gluten allergie)
50 g mielieblom
250 g botter
2 hoender aftreksel blokkies
Plaas al die bestanddele in voedselverwerker en meng tot fyn en al die bestanddele ingewerk is. Plaas in lugdigte houer en stoor vir 3 maande in die yskas of vrieskas vir 6 maande.
Om te gebruik voeg 3e – 4 e basiese soppoeier by 1 k (250 ml) water en gebruik dan om soppe en souse te verdik.
Variasie van basiese soppoeier:
Voeg uie vlokkies of knoffel vlokkies van ongeveer 3 e.
Voeg gedroogde kruie van keuse by van ongeveer 1 e bv. dill tippies, chillies, swart peper, roosmaryn.
Voeg gedroogde sampioene van ongeveer 1 koppie by mengsel.
Hoender
1 heel werfhoender op die rugkant oop gesny en gevlek.
300 g aartappel wiggies
2 groot uie in ringe gesny
1 k room of klappermelk of gewone melk
1 k water
4 e soppoeier
½ k appelkoos en mosterd blatjang (p.198) van Boerekos met ’n Twist kookboek
Sout en peper na smaak
Plaas werfhoender, uie en aartappels in kasserol bak. Meng al die bestanddele en giet oor die hoender. Plaas hoender in oond en skakel oond na 150 ℃ en bak vir 3 ure tot sag en bruin met deksel toe.
Bedien met Romerige mielierys op p.57 van Boerekos met ‘’n Twist asook die Patat poffers met karamelsous op p. 40
Variasie: Vir die Prutpot (Slowcooker)
Pak bestanddele en meng sous soos bespreek in gewone metode. Skakel prutpot op high en maak gaar vir 3 ure.
Bron: Annelien Pienaar, Uittreksel uit Kiepie oor die kole klas.
Hoeveelheid: 4-6 porsies.
Jy bly maar n wenner..
Dankie en geniet elke Twist. Groete Annelien
Shoe, dit lyk lekker. Baie dankie vir die sop poeier resep. Hoe maak mens sampioene droog? Jy’s besig om my brein te aktiveer, want ek het nog nooit gedink dat mens self sop poeier kan maak of sampioene kan droog nie. Die dag toe ek jou ontmoet het, was ‘n baie groot seên vir my en my familie.
Jy kan sampioene baie maklik tuis droog. Spuit waspapier goed met kleefwerende sproei. Sny die sampioene in 2mm dik skyfies en pak op papier. Plaas in 90C oond vir 5 ure en as droog, plaas in fles wat lugdig is. Hou in yskas.