Die weelde van plaaslewe is ongekend as mens deur die plaas stap en die vrugtebome elke jaar snoei en versorg vir die volgende jaar se opbrengste wat wag. Vye is vir my n wonder vrug in die sin dat die hele plant vele aanwendings en gebruike het. Die soetheid van die vy as dit so oop gebreek word en die taai sous trek sulke draadjies, dan weet jy manne op die lippe! Ek preserveer verskriklik baie vye elke jaar vir opsnipper in vrugte koeke. As ek nie tyd het om die Verglansde weergawe te maak soos gesien in my Boerekos met ‘n TWist kookboek, dan droog ek en los dit in die stoor totdat dit gereed is vir die volgende stappe. Hierdie is regtig min werk vir baie plesier van eet.

Voor jy begin moet jy weet:
1. Vye se boudjies moet sag en goed uitgeswel wees sonder dat die boudjies erg gebars is. Barsies is reg, maar nie pap sag en stroop wat uit drup.
2. Wanneer vye geoes word mag dit NIE in water geweek word. Die vye moet elkeen per hand met ʼn klam lappie afgevee word.
3. Die vye mag heel of gehalveer gedroog word.
4. Siwwe vir die droog van vye is baie belangrik en vir hierdie les is ‘n dehidrasie kas nie die regte keuse vir droging omdat vye baie dig in tekstuur is, hoog in suiker en dus weke neem om droog te word. Dus is Sondroging die beste opsie.
5. Maak vir jou rame met sif draad en droog dan die vye direk in die son.
6. Vye moet elke dag in gebring word anders sal dou weer vog terug sit. Of bedek dan net die produk sou jy dit nie wil in bring.
7. Sout oplossings help om swamme tee te werk. Dit is vir my baie veiliger as swael ens wat gebruik word as preserverings middels. Ek verkies om so natuurlik moontlik te werk. Jodium is in hierdie geval jou beste vriend en koop daarom gejodeerde tafelsout.

Resep
Enige hoeveelheid vye, afgevee, stingel korter gesny, heel of halveer
Plaas op droog rakke vir paar dae direk in die son en bedek met sif. Draai elke paar dae die vye.
Sodra die vye leeragtig raak maar sag, maar nie smetterig pap, moet die vye in soutwater gedompel word. Dit kan enige iets tussen 5-14 dae neem. Die sout oplossing kan vermeerder word sou jy groter volumes vye wil verwerk.
1 liter kookwater waarin
4 e gejodeerde sout opgelos is en
1 teelepel suurlemoensap in gemeng

Bring die mengsel tot kookpunt en dompel die vye bietjies vir bietjies in die water en haal dadelik uit. Pak weer uit om vir paar dae te droog.

Wanneer die heel vye verpak word, druk die boudjie deel na die stingeltjie om ‘n plat ronde struktuur te vorm. Die vy moet sag maar nie pap wees.

Ek laat dan die vye weer so paar daggies net droog in ‘n toegeknoopte linne sak wat ek in my spens ophang.

Daarna pluk ek vars salie blare of suurlemoen blare of loerierblare en ryg dan die blare en die vye in ‘n kransie en verpak dan weer in ‘n karton houertjie wat kan asemhaal. Gee as geskenkies. Ander gedroogde vrugte soos lemoen wiele vertoon ook pragtig so ingeryg saam met kruie blare. Geniet en spog op sosiale media met jou mooi skeppings.

Groete

Annelien

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 1996
Hoeveelheid: enige hoeveelheid.