Sodra mens die reis met kruie en speserye begin is daar geen omdraai kans want van kos, tee vir allerlei kure, gebak en vele meer begin jou nuuskierigheid en wel, dan eindig jy soos ek met spensrakke vol kleure en geure.

Hierdie mengsel is ‘n resep wat ek deur die jare maak en elke jaar kom daar so ‘n tikkie van my eie smaak profiel by en die laaste 5 jaar reken manlief hierdie is ‘n mengsel vir alles en nog wat.

*Droog van sitrus skil in die mikrogolf as jy haastig is: zest of fyn rasper met sterk kant van rasper ‘n suurlemoen en plaas die stukkies tussen kombuis papier en droog in mikrogolf oond deur vir 30 sekondes te draai, herhaal 3 x en dan sal die skil droog wees. Pas dit op anders slaan dit aan die brand!

1 lourier blaar
¼ t fyn gemmer
1 t gedroogde suurlemoen zest *
1 t oreganum gedroog
1 t wonderpeper (All spice/pimento)
1 t swart peper, vars gemaal
½ t tot 1 t chillie poeier
¼ t kaneel
2 knippies naeltjies (cloves)
1 t neutmuskaat (nutmeg)
5 e gerookte paprika
1 t komyn, fyn
1 t rysmeel (fyn gemaalde rys of mielieblom)

Plaas al die bestanddele in ‘n voedsel verwerker en maal tot goed fyn of in ‘n koffie meule.

Plaas in ‘n lugdigte houer en stoor vir maande in donker kas.

Hierdie maak wonderlike geskenkies.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar
Hoeveelheid: ongeveer 250 ml