Kampkos, kuierkos, troukos…alles in een. Van ‘n Poffer deur drenk met ‘n sitrus stropie en dan bedek met soet karamel sousie tot ‘n ongelooflike heerlike broodjie of bolletjies en oor die kole in ‘n warm pan soos ‘n Engelse muffin gebak. Hoe dit ookal is, die deeg is baie veelsydig. Vandag fokus ek net op die Karamel poffers. Vir my troue het ek nog in my studente tyd hierdie resep ontwikkel en my gaste was gaande daaroor en het sommer so vir nagereg vir meer kom vra saam met roomys en vla! Ek het hierdie resep styf teen my hart gehou maar besef ook ander moet die wonder van lekker kos geniet. Mag hierdie resep vir jou sommer heerlike herinneringe bring. Oooo….en as jy nie lus het vir die karamel sousie nie…dan kan jy versiersuiker en kaneel meng en dan oor die bolletjies sprinkel soos wit sneeu…dit werk net so goed of selfs net in kaneel strooisuiker rol. Speculaas kruie is natuurlik net so lekker saam met die twee suikers van jou keuse.
600 g koekmeel
300 g pampoen/botterskorsie of patat puree (droog gekook)
3 groot (large) eiers
10 g kits gis
3 e witsuiker
3 e olie van keuse of botter gesmelt
4 e melk
½ t sout
Sif die droë bestanddele saam. Meng die nat bestanddele saam en voeg dan by die meel mengsel. Knie die beslag tot ‘n gladde deeg vir 5 minute en rus 10 minute bedek met deksel en knie weer tot glad vir ‘n minuut. Bedek met deksel en rus vir 60 minute totdat jy merk die deeg het genoegsaam gerys.
Rol die deeg uit en druk 3-5 cm sirkels uit van die deeg en plaas op ‘n gesmeerde bakplaat om te rys, hou bedek met plastiek. Sodra die bolletjie dubbel die volume gerys het braai in diep olie soos vir vetkoekies.
Dreineer die bolletjies en doop dadelik in die stroop. Indien jy hierdie resep maak vir ‘n funksie stel ek voor die bolletjies word voor die tyd gemaak so na aan die tyd en of vries dit. Haal dit uit vrieskas en maak weer bros in die oond by 180C vir 5-8 minute en giet dan die warm sous oor sodat dit in die bolletjies kan intrek.
Suiker stroop
2 k witsuiker
4 k water
1 lemoen se skil en al die sap
1 t vanilla essence
1 kaneel stokkie
Plaas al die bestanddele in ‘n diep kastrol en kook saam. Laaste voeg die vanilla by. Hou die sous warm op die kant soos jy die bon bons bak. Sodra die bonbons almal klaar gebraai is, giet die warm stroop oor. Roer van tyd tot tyd deur. Daarna, maak die sous en giet oor.
Sous
500 ml melk
500 ml water
1 e vla poeier
1 e mielieblom
3 k witsuiker
2 knippies sout
4 e botter
15 ml vanielje geursel of karamel of enige sitrus geursel soos lemoen of suurlemoen
Verhit die melk, water, vla, mielieblom, suiker, sout, botter saam en bring tot kookpunt en roer te alle tye sodat die vla en mielieblom nie na onder sak. Kook totdat die mengsel verdik het. Verwyder van hitte en voeg die geursel by. Hou eenkant warm.
Hoeveelheid: 50 bolletjies afhangend hoe groot jy druk.
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 1996
Middag Annelien,
Help asseblief :
“1 lemoen se skil en al die sap (lemoene is nie nou beskikbaar hoeveel sap en skil sal dit wees)”
“”Haal dit uit vrieskas en maak weer bros in die oond by 180C vir 5-8 minute en giet dan die warm sous oor sodat dit in die bolletjies kan intrek.”
M.a. w as ek dit klaar gebak het in olie gooi ek die suiker stroop oor en vries dit , slegs die sous word nadat ontdooi en warm gemaak word oorgegooi.
Hoe dik moet ek die deeg uitrol?
Hoor graag van jou.
2 e skil en 125 ml sap. Nee vries sonder sous. 2 cm dik. Groete Annelien