Hummus…die perfekte vegetariese en vegan protein bom ooit. My huis is NOOIT sonder ‘n potjie! Ek berei ‘n 500g pakkie met kekerertjies (chickpeas) en vries as daar te veel uit kom vir latere gebruik. As jy geduld aan die dag le gaan hierdie resep jou groot beloon. Lees asb hierdie resep sorgvuldig deur.
230 g gedroogde kekerertjies (chicpeas) OF 2 blikkies kekerertjies, dreineer. Vries die vog vir aquafaba
½ t koeksoda
Week die ertjies in kastrol met genoeg water om die ertjies te laat uit swel, sprinkel die koeksoda oor. Die koeksoda sal die velletjies sag maak en ook bydra tot ‘n sagter en gladder hummus. Los vir 4-6 ure om dubbel die volume uit te swel. Hou dop, as die water op raak tydens hidrering vul net aan.
Voeg die res van die koeksoda by en bring die kekertertjies tot kookpunt en kook oor matige hitte vir 30 minute met ‘n deksel en voeg daarna by ‘n teelepel sout. Terwyl die mengsel kook sal die koeksoda die gifstowwe afdryf en dit sal in ‘n skuim vorm. Skep die skuim af soos die erte kook. Toets of die erte sag is deur dit met ‘n vurk teen die kant van die kastrol sag te druk.
Dreineer die vog, spoel die erte goed af. Haal dan soveel moontlik van die los doppies af en uit. Ek weet dit is n lang proses maar glo vir my, hoe minder vliesies hoe gladder die hummus.
Sodra die erte skoon is plaas in ‘n voedselverwerker. Ek verkies om met die Bamix se S blade die erte fyn te puree. Maar jy kan enige ander blender gebruik van jou keuse. AS jou blender nie fyner kan gaan, vryf die ertepuree deur ‘n fyn siffie, dit is hoe die mense dit in die oudae gedoen het of ‘n ystervysel!
150g tot 200 g tahini paste
2.5 ml (1/2 t) sesam olie (opsioneel) ek vind soms dat die tahini pastes nie almal ewe sterk is in smaak en vul dit dus met die sesam olie aan.
2-3 knoffel toontjies fyn gekap
2 e olyfolie
90 g (6 e) vars yskoue suurlemoensap
5 ml fyn gemaalde komyn (cumin)
1 e witsuiker
knippie nutmeg
Knippie gerookte paprika
Sout na smaak
Swart peper na smaak
8-10 e yswater (hierdie yswater dra by tot ‘n baie meer romeriger hummus want die olie in die tahini paste emulsifiseer!)
Terwyl die lem van die masjien draai voeg die tahini paste by die fyn kekerertjies, werk goed deur. Daarna elke bestanddeel in volgorde soos dit gelys is. Gee kans dat elke bestanddeel eers goed deur werk voordat jy die volgende een by voeg. Stop en skraap met sekere blenders eers die bestanddele saam as dit lyk of dit nie mooi meng.
Laaste voeg die ys water lepel vir lepel by totdat die konsistensie na jou wense is. Dit is persoonlike smaak, so neem jou tyd en proe totdat dit vir jou perfek is.
Bros lagie vir doop van platbrode en happies
Neem die suurlemoene waarvan die sap onttrek is en sny dun lagies van die skille af. So 8 stukkies dun skil van so 2 cm breed n 4 cm lank is perfek.
Neem 4 knoffel toontjies en maak dit skoon. Kap die knoffel plat met die agterkant van ‘n mens se lem en sny in repies.
Verhit ‘n pan met ‘n bietjie sonneblom olie en braai die skil en die knoffel totdat die knoffel karameliseer het. Drieneer die olie en hou eenkant. Neem die bros gebraaide bestanddele en rangskik op die hummus. Giet die olie oor en onthou…hummus eet jy NIE koud nie! Lou warm of by kamertemperatuur.
Nota: ek hou natuurlik van die kleur van rissies en sal so paar rissie vlokkies oor gooi vir kleur maar ook smaak.
Loer vir oulike geure idees in my kookboeke. Veral Vleis die omvattende gids het ‘n breedvoerige afdeling oor hierdie onderwerp en ook wonderlike lesse om meer te leer oor kruie en speserye!
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar Food Consultant 2023
Hoeveelheid: 500 ml ongeveer