Hierdie anderste maar ongelooflik geurige Beet en Vye Gin konfyt is die perfekte pasmaat vir ‘n kaasbord of ‘n broodtafel. Feestelike smake en geure wat opdoem en jou gaste se smaak kliere aan die dans kry. Heerlik ook as n marinade vir vleis geregte, kaaskoek glans lagies en vele meer.
Wenk
- Variasie: ipv vye gebruik Frambose (Raspberries) vir ‘n ongelooflike geur in dieselfde gewig.
Bestanddele vir Beet en Vye Gin Konfyt
- 1 kg beet, geskil en in blokkies gesny, 3 cm x 3 cm
- 1.5 liter (6 k) water
- 1 kg vye, ongeskil, fyn gekap
- 125 ml suurlemoensap
- 2 t pektien poeier (alternatiewelik kan 2 e chia sade gebruik word: neem kennis hidreer die sade eers in die suurlemoensap vir 10 minute en voeg dan by die kokende massa as die suiker goed opgelos het.)
- 1.2 tot 1.5 kg witsuiker na gelang van smaak
- 1 ml (1/4 t) sout
- 125 ml Gin van keuse (loer gerus na Incendo Distillery, loer op Facebook)
- 1 e xanthan gum aangemaak met 100 ml water en goed deur geroer of alternatiewelik ‘n kwart koppie chia sade wat direk by die kokende massa aan die einde bygevoeg word om as verdikker te dien.
Metode vir Beet en Vye Gin Konfyt
- Kook die beet stukkies tot amper sag in die water, ‘n vuurhoutjie moet maklik deur kan steek. Behou die vog en beet saam in pot en volg die resep verder.
- Voeg die vye en suurlemoensap by die beet in die pot en kook vir 10 minute. Meng in tussen die pektien met witsuiker en voeg by die kokende mengsel en roer goed deur en draai eers die hitte af sodat die suiker en sout tyd kan kry om te smelt. Sodra die suiker genoegsaam opgelos het, kook teen matige vinnige hitte vir ongeveer 20 minute tot konsistensie van keuse bereik is. Voeg die xanthan gum of chiasade by. Kook vir 5 min.
- Toets ‘n lepel vol op ‘n kouer piering en kyk na die stolsel. Kook langer indien verkies. Sodra die mengsel gereed is, voeg die Gin by en kook vir 2 minute.
- Laat die mengsel vir ‘n minuut rus en bottel in warm gesteriliseerde flesse. Lees asb. die Bottel en Bere afdeling my BKT kookboek oor sterilisering van bottels vir preservering.
- Hierdie konfyt hou vir 6 tot 12 maande op die spens rak. Die konfyt is so lekker dat dit nie hou.
Hoeveelheid: 4 x 375 ml houertjies
Bron: www.annelienpienaar, deur Annelien Pienaar 2022
Word die water waarin die beet gaar kook behou? Word die vye en suurlemoensap by die water gevoeg, of word die beet gedreineer?
Morné, die water word behou. Groete Annelien Pienaar