Ingelegde vrugte is wonderlik om in die kas te hê en elkeen van ons kan getuig van iemand in ons lewens wie se spense gespog het met die mooiste vrugte in ʼn bottel. Daar is tegnieke wat hul destyds en tot vandag gebruik het om hierdie moontlik te maak, daardie goue vrugte vir jare te preserveer. Ek bespreek in hierdie les met julle twee waterbad metodes. Wat die een van die ander onderskei is eenvoudig net die feit dat een by ʼn koeler temeperatuur maar langer gekook word, maar soms het mense nie termometers, en daarom dan die warmer metode. Dit tersyde gestel…vir vrugte wat maklik krimp sal jy eerder die langer koeler metode gebruik as die warmer metode, soos hier onder bespreek.|

NB: NET vars vrugte wat 1-2 dae oud is mag vir inlê gebruik word. Ouer vrugte sal gis want die bakterie en gistellings is te hoog want dit is hoe die natuur werk, sodra ‘n vrug los kom van die stingel, begin moedernatuur met die afbraai proses om dit weer in die natuur te verwerk. So maak seker jy kry VARS vrugte. Vrugte vir hierdie proses kan ook NIE vooraf bevries word om voorraad op te bou nie. 

Waterbad
WWB: Warmwater bad metode: 80-90C vir vrugte wat baie maklik kan krimp. Ek vind met my gas dat die matige stelling of halfpad merkie die beste die water temp reguleer.
KWB: Kookwater bad metode: 90-100C

Water word vooraf verhit tot by die temperatuur van jou keuse. Dit is belangrik om dit reeds te doen as jy begin bottels pak. Alles is ʼn warm proses. Dus werk dit soos volg, vrugte word volgens spesifikasie voorberei, gepak in skoon gesteriliseerde flesse. Kokende sous oor die vrugte, draai toe (neem kennis van die toedraai in metode bespreek), dadelik in die waterbad en voltooi die tyd vir preservering.

Hierdie stroop resep is ʼn dik stroop en kan sommer in groot volumes gemaak word en gevries word en net weer verhit word soos nodig! Minder werk en beter beplanning. Dus verdubbel die resep perfek.

Stroop
200 g witsuiker
250 g water
Knippie sitroensuur

Vrug tot stroop: 1 kg verwerkte vrug 1 x aanmaak van stroop

Voorverhit water na kookpunt in ʼn kastrol, hou ook kookwater eenkant om op te vul sou die kastrol nog water kort. Onthou asb om seker te maak dat die flesse ten volle bedek moet word met water, so 1 cm bo die deksels. Die kastrol moet dus diep genoeg wees.

Pas ryp vrugte.

Heel vrugte kan blansjeer word vir 2 min om skil te verwyder OF geen verhitting, net prik met ʼn stopnaald om vlees te help om nie te bars tydens verwerking. Ek persoonlik verkies die prik metode.

Halveer vrugte, doop vir 1 minuut in kokende water en plaas dadelik in yswater, dreineer dadelik.

Pak die vrugte in flesse met die holtes na onder gedraai. MOENIE te styf in druk maar eerder net dig gepak.

Vul die flesse met die kokende stroop. Neem ‘n sosatie stok en kantel eers die houer in die rondte sodat lug borrels verwyder kan word en dan opgevolg met die sosatiek stok om vanaf die kant van die bottel so bietjie te wikkel en teen die vrugte te druk om nog meer lugborrels te laai uit kom.

Draai die bottel toe maar NIE styf toe. Die toedraai is iets wat jy sal moet toets want my styf en jou styf is verskillend want ons hande is verskillende sterkte. Die beginsel is om te draai dat die prop stewig vas is maar nog daardie entjie kort om GOED toe te draai. Want draai jy te styf toe sal die inhoud uit forseer word en water van buite insuig…wees daarop bedag.

Plaas flesse in die warmwater bad en werk soos volg:
WWB metode: 20 min
KWB metode: 15 min
Stoomdruk metode met ʼn egte Pressure canner (NIE jou stoompot nie): 35 kPa vir 10 minute

Vir WWB en KWB haal die vrugte dadelik uit die warmbad en draai op hul koppe om af te koel. Dit voorkom mikrobe groei in die waterdamp wat vorm tydens afkoeling.

Vir ʼn Pressure canner moet jy die spesifikasies van die handelaar volg.

Bron: Annelien Pienaar, 1996 vir Food Prep level iv, www.annelienpienaar.co.za