Hierdie is ‘n redelike groot koek en lewer 12 koppies se beslag. Hierdie resep kan halveer word vir ‘n enkel laag koek. Ek verkies om die groente in hierdie koek eerder te rooster in die oond tot sag en dan te puree. So bly die geur en die kleur van die groente behoue en die koek smaak net baie meer intens.

230 g bakkers margarien van 80% vet inhoud
170 g botter, kamertemperatuur, so sag dat jou vinger reg deur die botter druk
400 g wit suiker
200 g treacle suiker
2 t bakpoeier
½ t koeksoda
¼ t sout
9 large eiers
1 ½ k gaar, fyn patat, beet of botterskorsie puree
420 g (3 k) koekmeel
15 ml vanielje geursel
1 t kaneel
¼ t gemmer
¼ t wit peper
¼ t neutmuskaat

Voor verhit oond na 170C. Smeer twee koekpanne van 20-25 cm en hou eenkant. Onthou jy kan ook kolwyntjies bak, brode of in bundt panne. Vir bundt panne gaan jy twee panne benodig omrede die beslag vir standaard bundt panne ongeveer 6 koppies beslag neem. Hou dit ingedagte. Baktyd sal effens verskil, hou maar net dop.

Room die botter en margarien saa tot lig en donsig. Voeg dan die suiker by en klits baie goed deur tot baie lig en romerig vir 8 minute op matige spoed. Voeg die bakpoeier, koeksoda en sout by. Klits deur. Voeg dan die eiers een vir een by, na elke byvoeging klits vir 2 minute. Neem jou tyd hier want dit bepaal die tekstuur van die koek.

Sodra die mengsel goed deur gemeng is, voeg die pampoen puree by en klits goed deur.

Sif alle droe bestanddel wat oorgebly het saam en klits dan die meel ‘n halwe koppie per minuut by. Laaste voeg die vanielje by.

Giet die beslag in die voorbereide panne.

Bak die koek vir 45 tot 50 minute by 170 C. Onthou om altyd eers die middelste deel van die koek te toets met ‘n tande stokkie of dit gaar is. Trek die oond laai effens uit, moenie die koek uit die oond haal. Koue sal koeke wat nie gaar is laat in sak, basies ‘n vacuum suig.

Sodra die koek gaar is, laat goed afkoel en bedien met ‘n heerlike roomkaas versiersel.

Bron: www.annelienpienaar.co.za 2003
Hoeveelheid: 2 groot koeke van 12 x koppie mates