Bokkenpootjies is suiwer Nederlandse gebak en aller heerlik. Ons het met hierdie heerlike koekie groot geword en meer nog, my ma het so paar kinkels op hierdie resep in gebring. Sy het ronde koekies gespuit ipv lang vingers met die kenmerkende groter punte en dun middel deel. So hoe dit jou ookal pas, jy kan die vorm van hierdie koekie verander. Wat wel onvergeetlik vir my was, was die amandel vulsel wat my moeder berei het met my haar tuisgemaakte amandel paste. Ek is nie lief vir amandel paste nie maar hierdie een sal jy nie eens weet dit is amandel paste wat in die versiersel laag is. Ek maak soms meer as wat nodig is aan en gebruik die amandel versiersel vir my koffie koekies se plakkery.

Wenk: eiergele kan suksesvol in ‘n sakkie gevries word of maak mayo daarvan. Loer op die webtuiste of in die BKT kookboek vir ‘n heerlike Tartaarsous. Of vries vir pasteie verf.

Voorverhit oond na 170C en berei ‘n bakplaat met silikoon of Teflon matjies voor. Sprinkel ‘n fyn lagie, net om te kan merk, met ‘n tee siffie en mielieblom. Meet die vingers se lengte van 10 cm af en los 2 vinger spasies tussen elke vinger oop. Jy trek dus strepe met jou vinger in die mielieblom. Berei ‘n spuitsak voor en sit ‘n 10mm tip in. Hou eenkant.

100 g eierwitte (ongeveer 3 tot 4 eiers)
2 knippies kremetart (anders 1 t suurlemoensap)
100 g strooisuiker

Klits die eierwitte met kremetart en strooisuiker tot lig en donsig op matige spoed. Baie mense maak die fout om die menger op sy vinnigste te stel en die wit waks te klits uit die eierwitte. Nee, jy wil sagte klein lug borrels vorm, so hou by matige spoed! As jy die klitser sou optel moet die punt wat vorm van die meringue nie omval nie en moet vorm behou.

100 g amandel meel
100 g strooisuiker
40 g mielieblom
50 g amandel skaafsels

Meng die amandelmeel, strooisuiker en mielieblom met mekaar deur dit saam te sif. Vou die meel mengsel met n deegskraper in twee byvoegings by die meringue mengsel. Doen asb per hand want ‘n menger sal oormeng en dan verloor jy volume.

Skep die beslag in ‘n spuit sak. Al die beslag mag dalk nie in pas nie. Spuit en vul net weer. Hou die buis loodreg vas en spuit op een plek vir 2 tellings (dit maak so ‘n effense uitstulping wat die bok pootjie verteenwoordig, trek die versierbuis dan soos ‘n lyntjie sonder om die punt onder te raak, hou in die lug dat die meringue self in plek val. Op die volgende punt weer twee telling op een plek druk. Dit moet die effek van ‘n honde koekie beentjie vormpie verteenwoordig.

Sprinkel die amandel skyfies oor.

Bak vir 20 minute tot lig bruin. Laat goed afkoel en berei die vulsel.

Vulsel
50 ml water
70 g witsuiker
250 g marzipan (gekoop is bietjie sterk in amandel geursel, maar as jy van dit hou, geen probleem)
15 ml Kirsch wasser of 1 druppel amandel geursel of geursel van keuse…ek het al selfs koffie en ook karamel geursels gebruik.

200 g bakkers sjokolade

Bring suiker en water tot kookpunt in ‘n klein kastrol en verwyder van hitte. Breek die amandel paste in klein stukkies en roer versigtig by die water en roer dan om op te los tot ‘n stewige pasta. Roer die Kirsch wasser by en klop dan met ‘n menger of draad klitser tot afgekoel. Smeer of spuit die versiersel tussen die lagies van die koekies.

Plaas bakkers sjokolade in lang drinkglas en smelt 15 sek in mikrogolf en roer, smelt weer tot glad. Doop dan die sjokolade se punte in die glasie, jy gebruik minder sjokolade so en beter dip! Vee die punte eers aan die glas af en plaas op bakkerspapier om te set.

Stoor lugdig op die rak vir 6 weke. Maar dit hou nie so lank want dit is te LEKKER!

Bron: www.annelienpienaar.co.za 2022 deur Annelien Pienaar, My Geheime koekie resepte joernaal, 1999
Hoeveelheid: afhangend van lengte kan jy op 24 geplakte koekies werk.