Vir padkos pak ek altyd droë vrugte, pretzel koekies, neute en paar ander snoephappies. Soos wat mens die pakkies pak bly daar altyd skrapsels oor en dit is hier waar ek begin speel met idees. Die sout van die pretzels is heerlik saam met die suurroom en kondensmelk, nie te soet nie net reg. Loer gerus ook in die Boerekos met ‘n Twist kookboek vir oulike idees vir yskasblokkies of Kroeg vrugtekoek in ;n bottel.
100 g glans kersies
300 g koekvrugte mengsel of droe vrugte van jou keuse opgekap
170 g pekans of enige ander neut van keuse, gekap
200 g tennis beskuitjies, grof gekap, nie fyn
200 g marie beskuitjies, baie fyn gekap
100 g pretzels gebreek
100 ml suurroom
1 blik kondensmelk
1 t vanielje
1 t kaneel
1 e kakao (opsioneel, as jy blondies wil maak)
Opsioneel: 1 k sjokolade splinters van jou keuse, selfs ʼn opgekapte Barone kan lekker wees!
Meng al hierdie bestanddele saam en meng goed deur. Druk in silikoon vormpies of in ʼn reghoekige bak wat uitgevoer is met bakkers papier. Plaas in die yskas en laat oornag set.
Indien jy silikoon pannetjies gebruik het, druk vorms uit en versier met gesmelte sjokolade en ekstra versiersel van jou keuse. Vir die pan vorm kan jy kreatief raak en dan vormpies uit druk of net gewoon opsny. Oorskiet stukkies is heerlik op roomys vir ʼn krakeringe soet laag.
Of…. maak ʼn salami van die mengsel deur dit op kleef plastiek uit te krap en dan op te rol in ʼn rol. Verkoel oornag, vries vir 3 ure en sny in skywe van jou keuse.
www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar, Kersfees 2018, Geskenke uit jou koskas klas.
Vrugtekoek in ‘n bottel wenk: Meng die bestanddele en MOENIE dit in enige vorm druk nie…skep net uit op ‘n teflon of silikoon vel en laat goed afkoel. Ek sprinkel nog n bietjie klapper oor, maar dit is opsioneel, ek hou ook van kakao oor en dan skep ek dit lossies in ‘n bottel in.
Hoeveelheid: 1 x 20 cm x 28 cm pyrex pan of standaard swisroll pan. Lewer 24 stukkies
Sluit gerus ook aan by my private lesers groep op Faceboek waar ek lesers bystaan en help met kombuis sake: Boerekos met ‘n Twist privaat lesers groep