Turksvy stroop is ‘n heerlike en lekker iets om in die huis te hê om saam met roomys, drankies en vele meer te geniet. Daar is egter ‘n proses om te volg om te verseker jy kry maksimum sap uit hierdie wonder vrug. Vir die kook van turksvy stroop het jy rooi vrugte nodig en nie die groen. Dus, is dit ʼn storie om hierdie outjie in die hande te kry.
Daar is vele tegnieke al probeer om die sap te onttrek en ek vind die metode wat ek nou gaan beskryf baie makliker en lewer ook ʼn helder konsentraat ipv melkerig. Indien jy ʼn juicer het sal dit jou lewe baie makliker maak en stel ek voor om daardie roete te gaan. Indien jy nie een het gaan ons die kook metode volg om maksimum sap te onttrek. Ek het al probeer om die vrugte te puree maar vind die lemme van die verwerkers kap dit pitte fyn en dan gee dit probleme tydens die dreinering. So, ons gaan die stroop soos volg doen.
Metode
1. Skil vrugte en sny grof op, moenie fyn maak. AS jy 1 vrug in 8 stukkies sny is dit perfek. Plaas in kastrol. Neem hier kennis dat die sap jou resep gaan vorm en nie die hoeveelheid vrugte wat gebruik word. Turksy stroop is ʼn ander outjie!
2. Ek verwerk so 2 tot 3 kg klaar geskilde vruggies op ʼn keer om sap te onttrek. Dus, vir hierdie gewig voeg 500 ml water by en kook met ʼn deksel vir 30 minute. Die vesels moet sag en pap wees sodat jy dit met ʼn masher kan fyn druk. GEEN blender stokkies asb. Ons wil ʼn helder sap onttrek.
3. Jy sal opeindig met ʼn pappery en dit is hoe dit moet lyk. Hier begin die groot werk. Jy gaan deur 2 filtrasie prosesse gaan vir die sap.
a. Neem ʼn groot vergittes bo-oor ʼn sif en skep die moes daarin en laat dit self deur loop, MOENIE dit forseer nie. Skep die moes uit wat nie deur gaan en hou eers eenkant. Neem die volgende sarsie, ek doen dit in 4 skeppe. Neem dan die moes wat reeds dreineer het en sit terug in die sif en druk dan liggies met ʼn hout lepel om die sap uit te kry. Daar sal stukke in die sif deur gaan, skud die sif sodat nog vog uit kan gaan en net pulp oor bly.
Onthou dat die pulp wat oorbly wel ʼn konfyt mee gekook kan word. AS jy nie tyd het om dit dadelik te kook, kan pulp bevries word of selfs gedroog word.
b. Neem die sap en syg dit deur ʼn moeselien doek. Ek vind dat ʼn stukkie voile (sintetiese, dun materiaal) die minste van die sap op neem en ook goed dreineer. Hierdie is die laaste stukkie om die sap helder te kry.
Kook van sap
Vir elke koppie sap benodig jy 200 g suiker en vir elke 500 ml sap 1 e VARS suurlemoensap
Nota: Hoe langer jy kook hoe donkerder word die stroop en dikker.
Plaas al die bestanddele in ʼn kastrol en begin oor stadige hitte die suiker smelt. Die inhoud in die kastrol mag nie kook voordat die suiker nie opgelos het. Maak seker die kante van die kastrol is suiker korrel vry en was af met kwassie as daar suiker sigbaar is.
Kook die stroop sodra die suiker opgelos het totdat die helte van die vog weg gekook het. Alles hang af van die grootte van jou kastrol hoe vinnig dit gaan gebeur. Lees asb die les Vye konfyt hoekom.
Bottel onmiddelik in gesteriliseerde bottels.
Vir ʼn heerlike suur alkoholiese drankie:
240 ml turksvy stroop
130 ml tequila
180 g lemetjie sap
Meng saam en bedien met gebreekte ys.
Heerlike verfrissende nie-alkoholiese drankie
1l sprite
¼ k turksvy stroop
Mint blare
Meng saam en geniet met baie ys op ʼn warm dag.
Hoeveelheid sap: 4 x 375 ml bottels, dit kan minder wees ook afhangend van die vrugte
Bron: Annelien Pienaar, www.annelienpienaar.co.za 2013