Vye is seker een van die lekkerste konfyte ooit. Heel, halwes of selfs fyn werk met hierdie resep. Daar is egter ‘n paar punte wat jy eers van kennis moet neem voordat jy sommer net weg spring en begin kook.
Konfyt les
Sandsuiker is jou grootste vyand met vye en daarom moet jy van ‘n paar goed dood seker maak.
Stroop kook: wanneer water en suiker verhit word mag die stroop NIE kook voordat al die suiker opgelos het. Maak ook seker die kante van die kastrol is nie vol suiker korrels en neem ‘n kwassie wat in water gedoop is en was af. Hierdie druppels suiker kan vir jou een groot kristal laat groei in ‘n bottel. Hierdie reel geld ook by die kook van Makataan. Ek vind om net voordat die kastrol kook die deksel op te sit en die stoom die kastrol se kante ook skoon maak net vir die wis en die onwis. Maar die suiker moet dan reeds goed opgelos wees.
Volgende punt wat jy moet seker maak, die stroop mag nie ophou kook as jy die vye bietjies vir bietjies byvoeg. Bv as jy 2 kg vye kook gaan jy dit in bondeltjies van 4 x 500 g byvoeg. Die stroop moet kook voor jy die volgende byvoeg. Rede, so sal die vye mooi helder en deursigtig kook. Hierdie is ‘n baie belangrike punt.
Goed, nou veronderstel jy kan nie die vye kook op die tydstip en jy wil dit vries kan jy. MAAR dit geld net vir vye halwes NIE heel vye. Heel vye sal soos stukke leer uit kom. Vries die vye egter met die helfte van die suiker wat die resep vereis. Sprinkel die suiker oor die gesnyde vrugte en seel dadelik dig in plastiek en dan in ‘n bak. AS jy kan vacuum seel nog beter.
Nog ‘n aspek tydens die kook waarna jy moet kyk is die grootte van jou kastrol se bodem. Ek kook met ‘n 30 cm kastrol bodem. Dit speel ‘n belangrike rol in die verdampingstempo van vog sodat die suiker konsentrasie kan verhoog en die vye kan deur drenk en helder maak. Te klein bodem en jy kook ure lank, taai en donker konfyt. Te groot bodem, vinnige verdamping van vog en dan….taai vrugte wat suur word en sandsuiker is gewaarborg.
Kom ons begin…
Onthou asb as jy die resep wil verdubbel gaan jy ook dubbel so lank kook…
2 kg vye halwes of kwarte, nie nodig om te skil nie, sny net merkies uit
1.6 kg wit suiker
500 ml water
1 t citric acid of wynsteen suur
1 duimpie lengte gemmer
Los die suiker op in die water oor lae hitte sonder dat die water begin kook voor al die suiker nie opgelos het. In hierdie tyd was die kante van die kastrol af sodat daar nie suiker kristalle sigbaar is.
Voeg die vye 500 g per keer by, en gee kans dat die stroop weer kook voordat die volgende vye by gevoeg word.
Was en steriliseer die bottels en hou die bottels warm in die oond teen 70C. Moenie in die bottel raak of in die doppe nie. Hanteer met ‘n kos tangetjie.
Kook die vye teen matige spoed, dit beteken die vye gaan teen halfspoed kook en dan sal jy ‘n skuim gewaar. Skep versigtig met ‘n sop lepel die skuim af. Hierdie is vuiligheid wat die produk kan laat afgaan.
Die vye sal ongeveer na ‘n uur begin glansend raak en amper deursigtig. Waarna jy moet kyk is hoe die stroop verander van ‘n borrel kook na iets wat wil wil lyk of die stroop begin opstoot en wil oorkook. Dan weet jy die vye is amper gereed. Voeg dan die sitroensuur of wynsteen suur by. Kook vir nog 10 minute matig.
Skakel die plaat af en laat die vye vir 5 tot 10 min net eers “settle” en begin dan te bottel. Die ekstra stroop kan gehou word vir gebak ens of eet net so.
Nota: Indien jy fyn vye wil kook moenie in die begin die vye heel fyn maak nie. Kap dit lekker grof met die mes en kook dan. Anders sal dit vasbrand. Wanneer die sitroensuur bygevoeg word kan jy met ‘n stok blender (ek gebruik my Bamix) dit baie fyn maak indien verkies.
Dan die laaste iets wat jy moet weet en die hoekom. Alle produkte nadat dit warm gebottel word moet op sy kop gedraai word en so laat afkoel. Onthou ook om NOOIT ‘n warm bottel op ‘n koue of nat oppervlak neer te sit, dit sal bars. Die omdraai het te doen met die feit dat die waterdamp wat vorm tydens afkoel ‘n teelaarde is vir bakterie om te groei. Sodra die bottel omgedraai word, sal die vog eweredig versprei weens osmose en die suiker en water dus balanseer. Hoop dit maak sin. Maar dit is hoekom jy die bottel op sy kop keer.
Mag jy sommer heerlike vye kook! Kom spog saam op my FB blad Boerekos met ‘n Twist.
Hoeveelheid: 7-9 x 375 ml bottels
Bron: www.annelienpienaar.co.za, 1996, deur Annelien Pienaar