Hierdie resep is gepak met vesel en ‘n goeie besem vir die dermkanaal om oortollige cholesterol, suikers en afvalstowwe uit die liggaam te vee. Meer nog hierdie kombinasie is uiters vullend en indien ‘n dag voor die tyd gaar gemaak en verkoel, verlaag die GI sodanig dat dit nog gesonder word. Die feit dat die GI verlaag beteken jou liggaam gaan minder insulien vrystel om die koolhidrate (glukose) in die bloed en tussen selle te transporteer, dus konstante bloedsuiker vlakke. Hierdie kombinasie het ook dus tot gevolg dat jy vir langer versadig voel.
Hierdie rys gee vir ons baie opsies: bedien saam met bredies, kombinasie met roerbraai en ook vir slaaie. Gaar rys vries ook baie goed en vir studente kos pakkies perfek.
Lees ook die volgende artikel oor rys deur op die skakel te klik: Rys varieteite, gaarmaak metodes en vele meer
Bêre mengsel
2 kg bruinrys, long grain parboiled, Spekko
1 kg sella basmati rys, parboiled, Tastic
500 g heel lensies, Brennco of enige ander handelsmerk
250 g quinoa enige kleur
Meng al hierdie bestanddele saam en stoor in lugdigte houer.
Gaarmaak
4 porsies: 1 k rys tot 4 k water tot 1 standaard aftreksel blokkie
8 porsies: 1 ½ k rys tot 5 k water tot 1 ½ standaard blokkie aftreksel
Spoel die rys totdat die water helder word. Plaas rys in ‘n kastrol en onder lopende water roer en giet water af totdat die melkerigheid verdwyn het.
Voeg dan water by en kook dan vir 10 minute, giet die water af en spoel met warm kraan water tot water weer helder is.
Vul rys aan met water wat gelyk met rys lê en oeg die aftreksel blokkie by. Kook vir 15 minute of totdat die lensies sag is en die basmati rys lank en uit gepof is. Oppas vir pap kook.
Geur van rys
1 groot ui, fyn gekap
1 groot soetrissie, fyn gekap
1 wortel in klein blokkies
5 ml knoffel
250 g sampioene gekap
2 e botter
2 e olyf olie
Vars tiemie of dill
Braai al die bestanddele saam tot mooi glansend en die sampioene gekrimp het. Voeg rys by en roer braai liggies, bedien warm of koel af en maak ‘n heerlike slaai. Gekapte spek of ham kan ook by hierdie mengsel gevoeg word.
Bron: www.annelienpienaar.co.za 2021
Hoeveelheid: 4-8 porsies
Goeiemore Annelien. Baie dankie vir die nuusbrief vanoggend. Iets wat ek al jare wou weet is hoekom mens die rys moet spoel nadat dit 10 min gekook het. Ek doen dit ook so want dis hoe ek geleer het, maar het nog altyd gewonder daaroor, want dit is mos reeds vooraf ook baie gespoel.
Lynette, daat is nie ‘n reg of verkeerd nie, maar eerder ‘n persoonlike keuse. Ek hou van rys los en vlokkerig nie ‘n klouerige storie. Dus as mens spoel, spoel jy die stysel af wat juis die klewerigheid veroorsaak. Vir ‘n sushirys soos basmati en ook vir risotto sal jy uit die aard van die saak nie spoel. So elke rys het sy kruis en ‘n tegniek vir kook.
Groete Annelien