Boerseep was ‘n tradisie wat ek as jong kind aan bloot gestel was en op my stoep staan die einste pot waarin my ma seep gekook het. Sommer sulke groot dik baksteen skywe wat sy dan nog verder kleiner gesny het na gelang van die bestellings. Deesdae kook ek op ʼn gas plaat en ʼn 20-30 liter vlekvrye staal kastrol my seep. As mens mooi uitwerk is dit regtig goedkoop om te maak maar wel ʼn tydsame proses.
Waarskuwing!
Caustic soda (seepsoda) NaOH, is korrosief en word baie baie warm. Dit kan NIE in plastiek gemeng word nie maar in vuurvaste glas bakke of beter vlekvrye staal.
Moenie die walms in asem nie. Werk met handskoene, masker en ʼn houtlepel. Lees elke stap sorgvuldig!
Fase 1: Uit kook van vet
5 kg beesvet (varkvet en skaapvet kombinasie kan gebruik word, maar skaap het ʼn reuk) sal wel dalk bietjie lanolien byvoeg indien jy dit kan vind, by die fase 2 proses)
3 liter water
150 g tafel sout
Neem die vet en sny dit in baie, baie fyn stukkies. Indien jy ʼn meule het kan dit nog beter werk en so ook die vet baie vinniger laat smelt. Dus, hoe kleiner die blokkies vet hoe beter.
Plaas die vet, water en sout saam in ʼn diep kastrol en maak seker die pot net tot by die driekwart merk of laer vol. ʼn Te vol pot gaan oorkook en spat.
Jy kan ook die resep in twee kooksels kook indien jy nie ʼn groot kastrol het.
Kook dan die vet en water oor matige hitte vir 2 ure sodat al die vet kan versag en uit sypel. Daar mag dalk nog stukkies vleis in die vet wees, dit gaan later dreineer word. Maak seker dat groter stukke vet fyn gedruk word soos dit kook.
Sodra die mengsel klaar gekook het, dreineer in ʼn diep emmer deur ʼn gaasdoek sodat die stukkies been en vleis agter bly. Laat die mengsel af koel totdat die vet hard genoeg is om van die water af te skep in stukke en spoel dan die vet in yswater sommer in ‘n ou kussingsloop of dreineringslappie. Ek vries soms die afgekoelde emmer om die vet so maklikerte “oes”, met hierdie tegniek skep mens minder water. Vries die harde vet in 250g porsies vir latere gebruik.
Fase 2: Aktivering van vet
750 g – 1 kg uitgekookte beesvet (vir ʼn sterk skrop seep vir linne sal jy 750 g vet gebruik. Vir die vel ongeveer 1 kg vet)
100 g caustic soda/ NaOH (Natrium hidroksied) (seep soda)
300 g water
20 druppels essensiele olie van keuse
125 ml -250 ml sade, kruie, blare van keuse. Ek hou van oats wat fyn gekap is vir die semels wat hande lekker skuur, rooibos tee blare, roosmaryn, laventel werk goed. MAAR asb gebruik alles in gedroogde formaat.
Lanolien is amper onbekombaar maar so 100g by sal vir velle wondere doen.
WAARSKUWING: Trek handskoene aan, beskermende bril en ʼn masker.
1. Voeg dan die seepsoda korrels by die water en nie anders om nie. Roer met ʼn hout lepel totdat die kristalle opgelos het. Jy sal merk dat die houer nou vuur warm geword het, dit is die chemiese reaksie wat volg met die water en seepsoda. Hierdie stap is kritiek…asb ek weet jy is nou haastig vir jou seep. As jy nie wag totdat die mengsel af gekoel het tot 40 ℃, gaan jou seep ʼn reuse mislukkig wees.
Dus neem jou tyd totdat die seepsoda mengsel 40 ℃ bereik. In die tussen tyd begin by matige hitte die vet te smelt en bring dit tot 45 ℃. As jy dit geleidelik doen sal die twee mengsels teen min of meer dieselfde tyd op die regte temperature kom. Ons het klaar gekook, hierdie is net ʼn verhitting om die vet te smelt sodat dit roerbaar kan word vir die byvoeging van die seepsoda.
Voorbereiding van vorm: Maak ook seker dat jou vorms wat jy gaan gebruik gereed is. Ek gebruik ou brood pannetjies wat geroes is en voer dit dan met waspapier uit. Twee piesangbrood lengtes (half loafs) is genoeg om mooi skywe na die tyd te kan sny. Maar jy kan selfs silikoon vorms laat maak of koop. Jou keuse. Goed, die voorbereiding vir die vorms is gedoen.
Ons gaan terug na die kastrol met vet wat smelt.
Sodra beide die vet en seepsoda op die regte temperatuur kom moet jy begin meng. Ek het vir hierdie doel ʼn ou draad klitser om die seep mooi romerig te klits. Die vet moet nou 45 ℃ meet en die seepsoda mengsel 40 ℃. Meng ʼn kwart van die seepsoda oplossing by die vet en klits baie goed deur vir 5 min met ‘n staaf menger. Hoe meer jy klits hoe romeriger en dikker word die mengsel. Doen dit vir nog 3 keer.
Hou asb aan met klits totdat die mengsel amper ʼn plaatkoekie tekstuur het.
WAARSKUWING: as die mengsel te warm is, sal die essensiële olies se geur verdamp. Maak seker dat die mengsel dik is en onder 40 C. Voeg nou die essensiële olie en ook jou keuse van tekstuur by, indien verkies. Onthou asb as jou mengsel te dun is sal die teksture wat jy in gooi na bo dryf. Dus hoe dikker die tekstuur hoe meer in suspensie sal die bestanddele bly en nie af sak nie.
Giet die mengsel in die voorbereide panne. Laat die seep oornag staan bedek en weg van sonlig en enige hitte sodat dit egalig kan set. Ek sny dan met ʼn dun groente messie die skywe binne in die pan…jy sal kan voel of die seep hard of sag is. Indien die seep sag is moenie uit keer. Dit mag sy vorm verloor. Laat staan vir nog ʼn paar uur. Keer die seep dan uit en sny weer op dieselfde lyne in repe of blokke soos verkies.
Laat die seep dan onbedek vir 7 dae in ʼn donker vertrek met goeie ventilasie droog. Soos die seep se vog verdamp sal die pH stabiliseer en meer alkalies raak. Jy kan ook korter droog indien die stukke nie so groot gesny word en as daar aan die seep gedruk word moet dit nie sag wees in die middel maar hard en geset.
Draai toe en hou al die seep in een houer vir die essesiele olie om effek te neem. Soms het ek gevind as ek nie ʼn suiwer 100% essensiele olie gebruik, die aroma verdwyn. Dus kan jy weer so bietjie olie op elke blokkie drup voor jy verpak. Maak egter seker jou essensiele olie is 100%. Kontak www.heavelydew.co.za vir suiwer essensiële olies en advies vir probleem velle.
Loer gerus onder my Klasse vir die nuwe Online klas wat afskop as ook fisies klasse by my in die studio.
Lewer 24 blokkies
Bron: Annelien Pienaar, www.annelienpienaar.co.za, 1968, verwerking van my moeder se Boerseep resep.
Annelien, betreffende die seepsoda, watse termostaat gebruik jy om die korrekte temperatuur te meet – ek het n suikertermostaat gebruik, maar die seepsoda het die punt vernietig.
Sansunita, ek verkies glas termometers vir hierdie werk. Dit is van getemperde glas en kom niks oor nie. Groete Annelien
Ek het ‘n vraag oor die pot, kan ek aliminium of gietyster ook gebruik? Ek het nie Stainless steel nie en sien hulle is redelik duur. Indien die gietyster reg is, sal dit veilig wees om dit weer vir kos te gebruik na dit gewas is?
Gietyster sal werk. Lekker seep kook.