My moederlief het altyd hierdie heerlike resep gemaak en daar was altyd bottels vol gereed om terug te neem Universiteit toe. Hierdie sousie is effe tegnies en lees asb die instruksies volledig deur. Nee, dit is nie moeilik nie, maar kan maklik skif. Ek vind dat dit makliker en min moeite is om die dubbelkoker uit te skakel en oor te gaan om die mikrogolf in te span. In ʼn kits is hierdie heerlike sous in ʼn bottel gereed vir gebruik. Die raklewe is ongeveer 2 maande in die yskas.

50 ml botter of bakkers margarien van 80% vetinhoud
5 ml sout
60 ml (4 e) koekmeel
10 ml mosterd poeier
30 ml (2 e) wit suiker
Knippie cayenne peper
400 ml lou melk
2 eiergele
100 ml wit asyn

Begin deur ʼn roux te maak en smelt die botter en sout saam. Meng dan met ʼn draad klitser die meel by en roer om goed te meng. Voeg die melk geleidelik by terwyl daar met die draad klitser geklits word om klonte te voorkom. Voeg die res van die droë bestanddele by. Kook tot styf.

Klits die eiergele liggies met die draad klitser (al is daar van die sous op die klitser) en skep 2 e sous by die eier in en klits goed deur. Voeg weer 4 e sous by die eiergeel en klits deur. Herhaal nog 2 x. Skep eier mengsel in die kastrol met sous en kook dan verder tot verdik. Verwyder van hitte en meng die asyn by. Klop goed deur en giet in ʼn skoon glas fles. Laat staan om af te koel. Stoor in yskas vir 2 maande.

Mikrogolf:
Begin deur ‘n roux te maak en smelt die botter en sout saam deur vir 30 sekondes te draai op 100% krag in die mikrogolf. Meng goed deur met draad klitser en voeg die melk, suiker, mosterd geleidelik by en klits weer goed deur. Mikro vir 1 minuut en roer weer. Herhaal nog 3 x.

Klits die eiergele liggies met die draad klitser (al is daar van die sous op die klitser) en skep 2 e sous by die eier in en klits goed deur. Voeg weer 4 e sous by die eiergeel en klits goed deur. Herhaal nog 2 x. Skep die eiermengesel by die witsous in en klop goed deur. Mikro vir 1 minuut en roer goed deur. Herhaal nog 2 x.

Meng asyn by en seel dig en laat afkoel voordat in yskas gestoor word vir 2 maande.

Bron: Annelien Pienaar, 2019, www.annelienpienaar.co.za
Hoeveelheid: 500 ml