Wanneer ek aartappels kies vir die maak van Aartappelkoekies dan verkies ek ‘n Kombinasie kultivar aartappel. Hierdie aartappel se eienskap verleen effense klewerigheid maar ook sterkte sodoende die aartappel nie sy vorm verloor as dit gerasper word.

Ek het altyd gekookte aartappels in die yskas en of dit nou vir aartappelkoekies of skyfies gebruik word, die GI waarde van hierdie aartappel is aansienlik laer en sal jou dus langer versadig hou. Aartappel is een van die voedsame soort stysels in die reeks van styselagtige groentes.

Vir hierdie gereg is dit nodig om medium grootte aartappels te gebruik. Kook die aartappels net vir 10 minute en laat oornag afkoel. Dit help om die perfekte aartappel pakkie te maak.

6 aartappels medium grootte, wasagtige/melerige

Kook die aartappels vir 10 minute in gesoute water. Die water moet vooraf kook as jy die tyd stel.

Laat die aartappels verkieslik oornag in die yskas.

Volgende dag, trek die skille af en rasper die aartappels met die growwe kant van die rasper. As jy die rasper werk doen, rasper in ‘n oondpan sodat die oppervlakte groot is vir die strooi en meng van die bestanddele wat by gevoeg word.

50g  koekmeel
1 eier
Sout en peper na smaak

Sprinkel die koekmeel, sout en peper oor die aartappels en roer die eier by. Jy kan nou besluit of die koekies wat jy vorm vierkantig of rond moet wees…hier is daar nie reels. Ek het egter gevind dat 100 g porsies perfek vries en ook gaarmaak. Meng alles deur en vorm. Vir hierdie foto het ek ‘n “patty press” gebruik.

Indien jy verkies om die pakkies te vries kan jy sommer direk op waspapier die vormpies maak en op ‘n bakplaat vries en dan later in bakke verpak. Die aartappel koekies kan ook in die oond gaar gebak word en dan gevries word en dan in mikrogolf verhit word.

Hierdie koekies kan dan of in vlakvet gebraai word vanaf bevrore toestand of in die oond gebak word.

Vir variasie kan jy die koekies soos dit bevries is in eier doop en dan in meel rol of broodkrummels vir ekstra kraak voordat dit gaar gemaak word.

Nog ‘n variasie is om 1 k gerasperde kaas en ook bietjie spriet uie in die mengsel in te meng en dan te voltooi soos verkies.

Baktyd van die koekies in die oond vanaf bevrore toestand is: 30 minute by 180 ℃

Baktyd vir koekies vlakvet: 3 – 5 minute per kant met medium hitte.