Waar begin mens die lof besing van hierdie veelsydige deeg resep? Die beslag kan 2 dae voor die tyd gemaak en verkoel word. Verder vries hierdie beslag ook baie goed as dit reeds vooraf op die vleis gesit word. Hier kan jy heerlik speel want die beslag kan gespuit word in sirkels, enkel hopies of sommer lepels vol op die vleis geskep word. Hierdie beslag is geskik om op ‘n verskeidenheid bredies gebruik te word in die plek van sous kluitjies. Die sous trek heerlik in die gebakte kors in en my Filistyne kan nie genoeg van dit kry.
Beslag
140 g koekmeel
Knippie sout
75 g botter
200 g kookwater (ja jy lees reg, weeg die water)
3 jumbo eiers
½ k fyn kapok aartappels
100 g cheddar, verouderd of gorgonzola / bloukaas, maar net 50 g omdat dit so sterk is
1 kg se bredie van keuse wat reeds gaar is (klik op skakels in rooi gemerk)
Skaap skenkel bredie
Flentertjies vleis
Geurige bees stowe gereg
Boerewors in Tamatie bredie
Voor verhit die oond na 200 ℃ en smeer ‘n tertbak of oondvastebak van ongeveer 25 cm deursnit met botter uit. Plaas eenkant.
Smelt die botter in kookwater wat op die stoof geplaas word in ‘n diep kastrol. Sodra die botter gesmelt is en die water liggies kook, verwyder van die hitte. Onthou as die water te veel kook gaan die beslag nie mooi rys nie want te veel vog het verdamp.
Voeg die koekmeel en sout by, roer die beslag totdat dit ‘n bal onder in die kastrol vorm. Plaas die deeg oor in ‘n mengbak en druk die deeg oop sodat dit vinniger kan afkoel. Roer en druk plat elke 2 minute totdat die mengsel genoegsaam afgekoel het sodat die eier nie dalk kan stol.
Klits die eiers een vir een met ‘n klitser by die deeg om ‘n sagter beslag te vorm. Klits deeglik voor die volgende eier bygevoeg word. Met die laaste eier voeg dan ook die kapok aartappel by. Klits tot glad. Maak seker teen hierdie tyd dat die mengsel koud is en roer dan met die hand die kaas by die beslag.
Plaas die beslag in ‘n versiersak. Jy het nie ‘n spesiale spuit punt nodig. Sny net die punt af van ‘n sakkie en druk die vulsel uit in ‘n spiraal of in klein hopies. Of maak soos dit vir jou mooi sou lyk. Ster punte werk nie lekker as daar kaas in die beslag is. Jy kan wel die kaas uitlaat vir ‘n gladder spuitbare tekstuur.
Spuit die beslag nou op die vleis en bak dan 35-45 minute by 200 ℃.
Bedien met ‘n heerlike tuinslaai.
Bron: Annelien Pienaar vir Vrieskas kos idees.
Hoeveelheid: 4-6 porsies