Lamsblad is een van daardie snitte wat nie maklik sny in repe nie. Daarom is ek lief daarvoor om die blad eers in die oond te rooster en dan uitmekaar te trek. Die vleisie word dan saam met groente en ’n heerlike sousie verder gaargemaak om ’n heerlike eenskottel gereg te vorm. Ek is baie lief om Fenegriek in my kerrie disse te gebruik. Die Fenegriek is baie gesond en kan by enige bakkerswinkel gekoop word. Of loer by die rak in jou gunsteling supermark onder Natures Choice vir die heel korrel of die fyn sout. Ek verkies die heel korrel.

 

1 lamsblad of 2 kg skaap skenkels
Sout en peper na smaak
15 ml (1 e) knoffel
60 ml (4 e) roosmaryn
30 ml (2 e) olyfolie

Steek gaatjies in blad en vryf al die bestanddele in die blad in. Plaas blad in Prutpot en maak gaar oornag. Of in die oond by 150 ℃ vir 4 ure tot vleis van been los kom. Haal al die vleis van die beenaf. *alternatief vir skenkels. Braai skenkels eers bruin en plaas dan in prutpot.

Groente
500 g piekel uitjies, skoongemaak
500 g baba-aartappels, halveer
1 kop brokkoli
250 ml (1 k) groente aftreksel
3 – 6 chillies, ontpit en fyn gekap (opsioneel)

Kook die vleis, aartappeltjies en uitjies tot sag in die aftreksel. Voeg laaste die brokkoli by en sous.

Sous
70 g (4 e) koekmeel
60 ml (4 e) botter
250 ml (1 k) pansous van lamsblad, vet afgegooi
250 ml (1 k) groente aftreksel
15 ml (1 e) knoffel
15 ml (1 e) fenegriek
15 ml (1 e) borrie
15 ml (1 e) kerriepoeier
15 ml (1 e) roosmaryn, droog
250 ml (1 k) room, laate by geroer as dis gaar is.
Sout en peper na smaak

Smelt botter  in kastrol en voeg koekmeel by. Braai die mengsel totdat dit bruin is…amper strooikleurig. Voeg die pan sous en groente aftreksel by en kook tot verdik. Voeg al die geurmiddels by en meng goed. Giet sous oor groente en kook net totdat die sous verdik het. Brokkoli moet nog bros wees en nie pap. roer die room by en bedien met cous-cous, stampmielies of mielierys.

Porsies: 6.