Sjokolade beskuitjie truffels

Sjokolade beskuitjie truffels

Weet nie mooi wie gaan hier rol nie…die balletjies of die koppe as die kinders staan en lek aan die hande as hul help bolle rol. Vinnig en maklik sodat klein handjies ook kan help om die vakansie happies te pak. Raklewe so 6 weke op die rak en 6 maande in die vrieskas in lugdigte houers.

200 g smelt sjokolade
150 g room
5 ml rum geursel of 10 ml brandewyn
200 g Tennis beskuitjie krummels
50 g neute van keuse – gemaal
50 g versiersuiker – gesif

Smelt die sjokolade in dubbelkoker en laat effens afkoel. Kap die sjokolade baie fyn met kapmes, stukke sal vinniger smelt.

Dubbelkoker: As jy ‘n dubbelkoker gebruik onthou die water in die kastrol moet liggies kook en dit moet ook nie die bak wat bo-op pas se bodem raak nie.

As die water te vinnig kook kan daar water druppels in die gesmelte sjokolade kom en dan word dit een growwe massa, so wees versigtig met hierdie proses, dit is die maak of breek. Indien dit gebeur roer 1 e kookolie by en hou aan roer met draadklitser tot glad. Haal van hitte af.

Roer die room en laaste die geursel by die gesmelte sjokolade en meng goed deur. Voeg die koekies, versiersuiker en neute by.

Verkoel in yskas vir 30 minute en maak 15 ml balletjies en rol in versiersels van eie keuse soos gesien op die foto. Versiersuiker, kakao, 100’s & 1000’s, klapper, fyn gekapte neute ens.

Porsies: 30 balletjies.
Bron: Annelien Pienaar, Boerekos met ’n Twist, 2014

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-10-27T14:54:58+00:00 0 Comments

Leave A Comment