Klapperys, vinnig en maklik. Elke kind moet een maal in hul leeftyd hierdie resep vir Entrepreneurs dag maak…ek het soveel ongelooflike herinneringe van my kindertyd en my ma!
Wenk: hierdie resep kan in ‘n verskeidenheid van kleure verwerk word, dink ook aan gender reveals…. die kleur is in die middel versteek. Jy kan ook met koekie drukkers mooi vormpies uit druk. Dus, jy kan regtig baie oulike ontwerpe doen en kreatief wees. Dink uit die boks! Ja. bolletjies werk ook mooi uit.
320 g versiersuiker, gesif (Hueletss is die beste)
1/4 t kremetart
385 g kondensmelk plus 1 eetlepel melk
320 g klapper, fyn, dessicated
5 ml geursel van keuse
kleursels van keuse
knippie sout
Berei ’n rolkoek pannetjie van 20 x 20 cm voor deur met waspapier uit te voer. Hou eenkant.
Meng al die droë bestanddele saam en maak ‘n holte in die middel.
Voeg die kondensmelk, melk en geursel daarby en meng goed met ‘n hout lepel. Sodra dit moeilik word om te meng, druk die mengsel met jou hand aan mekaar.
Verdeel die mengsel, druk die eerste helfte in die pannetjie en rol sommer mooi plat met ‘n glas. Kleur dan die ander helfte na gelang van jou keuse.
Ek hou van mooi ewe hoë lagies. Dus rol ek die gekleurde mengsel in ‘n stukkie plastiek tot min of meer die grootte van die pannetjie. Tel dit dan oor en rol dan verder vas.
Laat die lekkergoed eers vir 2 ure in die yskas rus. Sny dan in 4 cm blokkies en los om dan verder buite te droog vir paar ure en verpak.
Raklewe buite in ‘n sakkie: 2 maande.
Bron: Annelien Pienaar, 2017, Suiker klas uittreksel.
Hoeveelheid: 24 blokkies