Photo by: Annelien Pienaar Food Consultant (www.annelienpienaar.co.za)

Hierdie resep kom vir jare saam met my ma se boeke vol hand geskrewe resepte. ‘n Tyd wat ons almal koester. Net gedurende die Feestyd het sy dit vir ons berei en keurig saam met beestong en gammon voorgesit. Ek onthou nog haar oranje en geel Tupperware plastiek vorms waarin sy dit gemaak het. Sy was baie kwaai gewees oor die deksels wat bo-op gepas het. Eendag het ek die vorms nie mooi as stel gebêre en was moeder nou ontstoke omdat ek so ‘n deurmekaar kop was.

4 jumbo eiers
250 ml water
125 ml (1/2 k) asyn
200 g (1 k) wit suiker
20 ml (4 t) gelatien poeier
30 ml (2 e) mosterd poeier
2,5 ml (1/2 t) borrie
sout na smaak
250 ml (1 k) room

Berei ‘n geskikte vorm voor deur dit in koue water uit te spoel. Plastiek, silikoon of metaal vorms is geskik. 500ml moet met gemak in die vorm pas sonder om te min of te veel te wees. Neem dus water van 500 ml en giet in vorm om ‘n idée te kry of die vorm geskik sal wees.

Berei ‘n dubbelkoker voor: Voeg water in ‘n kastrol en plaas ‘n mengbak oor die kastrol sonder dat die water die bak raak. Bring die water tot kookpunt en verlaag die temperatuur sodat die water liggies kook.

Spons die gelatien oor die helfte van die water en laat eenkant staan om te hidreer.

Meng die eiers, helfte van water, asyn, suiker, mosterd, borrie en knippie sout saam in mengbak wat oor die kastrol hang. Hou aan om die mengsel liggies te roer totdat dit verdik het. Neem enige iets van 5 tot 15 minute afhangend van die mengbak…metaal vs glas. Metaal is vinniger as glas…maar ek verkies glas omdat die eier nie so maklik skif.

Sodra die eiermengsel verdik het smelt die gelantien deur die houertjie in ‘n aparte bakkie kook water te plaas sodat dit kan smelt, roer totdat dit lyk soos stroop. Voeg by die eiermengsel en roer goed deur. Plaas ‘n stukkie kleefplastiek op die mengsel om al die lug uit te kry om sodoende ‘n velletjie wat kan vorm te voorkom. Laat die mengsel tot kamertemperatuur afkoel.

Sodra die mengsel afgekoel het voeg die styf geklopte room by en vou liggies in. Skep in vorm wat met koue water uitgespoel is en stol vir 6 ure. Sodra dit gestol het plaas ek dit altyd in die vrieskas om hard te word sodoende ontvorming met silikoon vorms te vergemaklik. Raklewe van ongeveer 7 dae.

Bedien koud met vleis geregte.

Bron: Annelien Pienaar, 2018