Hierdie grondboontjiebotter stafies is die perfekte balans tussen romerig en krakering met ’n effense soet en dan die lekker grondbone botter wat deur kom. Die kombinasie van granola met natuurlike stroop en grondboontjiebotter sorg vir ’n stewige, voedsame basis, terwyl die laag donker sjokolade dit omskep in ’n ware bederf – sonder om oorboord te gaan. AS jy hierdie stafie moet vergelyk proe dit soos ‘n Jungle Peanut butter energy bar.
Elke hap bied nie net energie nie, maar ook tekstuur: sagte hawer, geurige grondbone en die intense afronding van donker sjokolade. Dis die soort stafie wat net so goed werk in ’n kosblik as padkos of kits energie vir besige programme.
Interessante feite:
- Grondboontjiebotter is natuurlik ryk aan proteïen en help om jou langer versadig te hou.
- Donker couverture donker sjokolade bevat antioksidante en minder suiker as melksjokolade.
- Hawermout dra by tot ’n stadiger vrystelling van energie – ideaal vir aktiewe dae.
- Stafies met granola sny mooier en hou beter hul vorm as dit gedoop word in sjokolade.
- Hierdie stafies stol uitstekend in die yskas en kan maklik vooraf gemaak word.
Wat is die verksil tussen Muesli en Granola?
Tradisioneel word Muesli nie gebak nie en net rou gerolde hawermout met sade en neute vermeng. Granola daarenteen word weer gebak om die suikers en heuning te karameliseer en wanneer die produk afkoel te laat verhard in hopies lekkerte. Geen ekstra suiker is nodig indiend dit vir ontbyt geniet word.
Tog word die woorde Muesli en Granola in dieselfde asem gebruik en vir hierdie stafies is dit krities om te verstaan sou jy nie self Granola maak dat jy die regte bestanddeel koop vir die stafies. Loer as by die volgende skakel want daar is ’n perfekte Granola resep met min moeite.
Stafie resep
240 g grondbone botter met stukkies in of enige ander growwe neute botter
140 g wit melk sjokolade, goeie kwaliteit asb
60 g goue stroop of heuning
10 g botter of klapperolie
270 g granola
¼ t karamel geursel
Knippie sout
500 g bakkers tipe sjokolade wat baie hard set vir doop
Metode vir Grondbonebotter Energie stafies
- Berei ‘n brood pannetjie voor van 23 cm x 9 cm en 8 cm hoog. Voer dit uit met die volgende tegniek: Pannetjie uitvoer tegniek
- Pannetjie: jy is nie gebind tot hierdie pannetjie grootte nie. Jy kan die beslag in silikoon vormpies druk of in enige vorm van jou keuse. Ek vind net met die brood pannetjies met reguit kante mens minder vermos en makliker stafies sny.
- Smelt die sjokolade, heuning en botter in die mikrogolf en stop elke 30 sekondes en roer en smelt totdat die sjokolade glad is.
- Voeg die grondbone botter en karamel geursel by en roer tot glad en goed gemeng. Daarna werk baie vinnig en roer die meusli by. Meng goed deur en druk in die voor bereide pannetjie.
- Maak die oppervlakte gelyk. Set dan die beslag in die yskas vir 6 ure bedek.
Smelt die donker sjokolade en giet in ’n lang glas. - Sny die stafies die grootte wat jy verkies. Plaas vir 5 minute in die vrieskas want dit gaan die doop baie makliker maak en sjokolade set ook beter en vinniger. Die poele wat die sjokolade normaal weg maak onder by die voetjies, sal minder ook wees.
- Steek dan ’n sosatie stokkie of lang tande stokkie in die sjokolade en steek dan op die lang kant se punt in. Doen so 6 stafies op ’n keer. Die sjokolade sal set en die stokkie sal nie uit trek as jy dip. Maak net seker die stokkie is lekker diep in en pas stewig. Doop van stafies
- Dip dan die stafies en drup in die glas af. Hou vas totdat jy sien die safie wil set. Plaas dan op bakkerspapier en laat dan goed set. Dit is altyd handig om ’n koue bakplaat te gebruik om die stafies wat gesny is koud te hou en ook ’n tweede een vir vinniger set.
- Stoor die stafies in die yskas vir ongeveer 6 maande. Op die rak so 4 weke lugdig verpak.
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2026
Hoeveelheid: beslag is ’n totaal van 700 g, 14 snye in totaal en weeg 51 g elk.
Voedingswaardes per 100 g stafie-mengsel
Nutriënt Per 100 g
Energie 2,142 kj
Koolhidrate 48.5 g
waarvan suikers 29.6 g
Vet 31.1 g
Proteïen 13.4 g
Vesel 5.6 g
Voedingswaardes per 51 g stafie
Nutriënt Per 51 g
Energie 1,092 kj
Koolhidrate 24.7 g
waarvan suikers 15.1 g
Vet 15.9 g
Proteïen 6.8 g
Vesel 2.9 g