Ek weet nie hoe om hierdie resep te klassifiseer nie want dit kan as ’n nagereg maar ook as ’n koek bedien word. Hierdie is een van daardie nageregte wat mense stil maak aan tafel. Dit is inderdaad ‘n alles bo-op mekaar in die pan, bak dit, en magies ruil die lae plekke: die flan sak af, die sjokoladekoek glip na bo, en bo-op wag ’n sagte karamelsous.

Wenk: Moenie skrik vir die stappe nie – lees dit rustig deur, en vertrou die proses.

Beplan mooi: hierdie koek koel direk in die pan af. Dus maak seker die pan word goed met BKT p.12 se koekpans smeer uit geverf. Verder gaan die koek 6 ure nadat dit afgekoel het in die yskas verder set voordat dit uitgekeer word. Dus moet die koek ’n dag of 5 voor die tyd gemaak word.

Kleiner porsies: jy kan kleiner koekies ook bak soos in muffin panne ens. Bak temperatuur sal dieselfde bly maar mik vir so 25 minute. Die flan mag nie skif nie, so wees wel waaksaam vir dit.

Indien jy verkies kan die gebak met die waterbad metode soos ’n Gebakte kaaskoek gedoen word om te keer dat die flan nie skif. Dit voeg egter tot 30 min by die oorspronklike kortpad resep se baktyd. Temperatuur bly wel dieselfde.

Waterbad metode: Plaas ’n diep pan waarin die koekpan sal pas in die oond. Plaas dan die gevulde koekpan in die diep pan, neem ’n ketel met kokende water en vul die onderste pan dan tot ¾ vol aan.

Bestanddele
Karamel
200 g (1 k) wit suiker
115 g (1/2 k) water, kamertemperatuur

Sjokoladekoek
210 g (1½ k) koekmeel
60 g (½ k) onversoete kakaopoeier
15 ml bakpoeier
2.5 ml sout
170 g (3/4 k) botter, kamertemperatuur
200 g (1 k) wit suiker
3 groot eiers (large)
5 ml (1 t) vanielje-ekstrak
½ k melk

Flan

4 eiers, groot (large)
½ koppie room
385 g (1 blikkie) kondensmelk
2 teelepels vanielje-ekstrak
1 eetlepel meel

Voorbereiding

  • Smeer ’n 10–12 koppie bundtpan of tuitpan baie goed met botter of bakvet.
  • Sprinkel wit suiker in die pan en draai dit sodat die hele binnekant bedek is.
  • Klop oortollige suiker uit en sit eenkant.
  • Voorverhit die oond tot 170 °C.

Karamel

  • Plaas die suiker in ’n klein kastrol met ’n dik bodem oor medium hitte.
  • Roer aanhoudend met ’n hittebestande spatel terwyl die suiker begin smelt.
  • Hou aan roer tot al die suiker gesmelt is en ’n ligte-amber stroop vorm – geen korrels nie.
  • Verwyder van die hitte.
  • Gooi die water stadig en versigtig by – dit gaan borrel en stoom. Hou jou gesig en hande weg.
  • Sodra die borrels bedaar, sit die kastrol terug op medium hitte en roer tot die harde suiker weer heeltemal oplos en jy ’n dun, gladde karamel het.
  • Haal van die hitte af en laat effens afkoel terwyl jy die res voorberei.

Sjokoladekoek

  • Sif die meel, kakao, bakpoeier en sout saam. Sit eenkant.
  • Klits die botter vir 1 minuut.
  • Voeg die suiker by en klits verder tot lig en romerig – sowat 3 minute.
  • Voeg die eiers een vir een by en meng goed na elke byvoeging.
  • Roer die vanielje in.
  • Voeg die melk by en meng net tot gekombineer.
  • Vou nou die droë bestanddele liggies in met ’n spatel tot glad.
  • Moenie oormeng nie – dit hou die koek sag.
  • Sit eenkant.

Flan

  • Breek die eiers en klits goed, voeg die room by en meng. Giet deur ‘n sif – dit help vir ’n ekstra gladde flan sonder eierstringe.
  • Voeg die kondensmelk en meel by die eiers en klits liggies tot ’n gladde mengsel

Inskep van pan met beslag

  • Gooi die afgekoelde karamel in die bodem van die voorbereide pan.
  • Skep die Sjokoladekoekbeslag versigtig in die middel van die pan met ’n roomys druk scoop of dan eetlepel vir eetlepel om sulke lekker bolle te maak wat in die sous staan.
  • Probeer om nie beslag teen die kante op te smeer nie – dit help vir netjiese lae later.
  • Gooi die Flanmengsel stadig bo-oor die sjokoladelaag. Ek vind hier om die flan mengsel eerder in ’n groot maatbeker te gooi en dan ’n groot nagereg lepel te neem en teen die kant van die pan te druk. Giet dan die Flanmengsel in die lepel sodat dit stadig oor die bolaag van die koek versprei ipv ’n gat in die beslag te maak as jy dit woes oor giet…neem jou tyd want dit beloon jou met ’n mooi uitkoms.
  • Moenie bekommerd wees nie – tydens bak ruil die lae vanself plekke.
  • Bak onbedek, direk op die oondrak, vir 35–40 minute of tot ’n toetspen skoon uit die koekgedeelte kom.
  • Die middel moet gestol lyk, maar nog sag wees.
  • Laat heeltemal afkoel tot kamertemperatuur.
  • Bedek en verkoel vir minstens 6 uur of oornag.

Om uit te keer

  • Plaas die pan vir 2–3 minute in ’n groter pan met warm water.
  • Dit maak die karamel los.
  • Sit ’n opdienbord bo-op en keer in een selfversekerde beweging om. (Ja, ne, knyp die oge toe en doen dit net!)

Berging

  • Hou bedek in die yskas vir tot 4 dae.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2026
Hoeveelheid: 1 x 23 cm bundt of ringkoek pan standaard grootte