Tres Leches koek het ons as kinders geken as ‘n Kondensmelk Room koek met ‘n kenmerkende vanielje sponskoek basis. Die geheim van die koek is dat die koek en die sous goed moet afkoel. Ek kon nie regtig die verskil sien van die sous warm of koud oor die koek giet. My kinders reken die warm koek met die koue sous oor is meer sag. Die tradisionele Tres Leches word met drie soorte melke gemaak en dan moet die koek goed afkoel voordat hierdie mengsel oor die koek gegiet word. Daarna word die koek vir paar ure verkoel voordat die room op geskep word vir die finale afronding.
Oulike weergawes van hierdie resep is ook om die room laag te doen in die Kondensmelk versiersel op die webtuiste. Dit is hemels en dan bo-op dit die versoete room. Geniet en kom spog.
Koek basis
210 g (1 ½ k) koekmeel
7.5 ml (1½ t) bakpoeier
2 knippies sout
92 g (6 e) botter, kamertemperatuur
200 g (1 k) wit suiker
6 groot eiers, geskei
2.5 ml (½ t) vanielje-ekstrak
Sous:
250 ml melk
385 g (1 k ongeveer) kondensmelk (as jy nou regtig wild wil gaan, vervang met karamel kondensmelk)
366 g (1 k ongeveer) ingedampte melk
Afronding:
1 ½ k room, yskoud
50 g (¼ k) wit suiker
5 ml (1 t) vanielje-ekstrak
Instruksies:
Koekbasis:
Verhit die oond tot 170 C. Voer ‘n koekpan van ongeveer 22 cm uit met pansmeer.
In ‘n bak, meng die meel, bakpoeier en sout saam.
Gebruik ‘n elektriese menger op medium-hoë spoed en klits botter en suiker totdat lig en donsig vir ongeveer 3 minute.
Voeg eiergele een vir een by, klits na elke byvoeging. Klits die vanielje by. Voeg die meelmengsel in drie byvoegings om ‘n stywe deeg te vorm.
Gebruik skoon klitsers in ‘n aparte skoon bak, klits eierwitte totdat dit punte vorm. Vou ⅓ van die eierwitte in die deeg; vou dit in die oorblywende wit. Skep die deeg in die bak en skraap gelyk.
Bak totdat ‘n tandestokkie in die middel ingesteek skoon uitkom, ongeveer 30 minute. Gebruik ‘n vurk om gate bo-op die koek te prik. Laat afkoel tot kamertemperatuur op ‘n rak.
Die sous: Klits die melk, kondensmelk en ingedampte melk saam. Giet oor die koek, bedek en verkoel vir ten minste 4 ure lank.
Afronding: Klits die room met suiker en vanielje tot stywe punte. Versprei oor die koek en koel 30 minute tot 1 uur. Versier met vrugte indien verlang.
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2003
Hoeveelheid: 1 enkel laag koek