‘n Eenvoudige resep om beet te preserveer sonder ekstra suiker. Maar ek wil wel maan dat beet opsigself hoog is in koolhidrate en in moderasie geneem moet word. Al het dit nie rietsuiker in, is dit ‘n komplekse koolhidraat.

Bestanddele:
3,2 kg klein baba bete, 5–6,5 cm in deursnee
4–6 uie, golf bal grootte
1,5 teelepels gejodeerde sout
200 g (2 k) sukralose
750 ml (3 k) water
1,5 liter (6 k) wit of bruin asyn
2 kaneelstokkies
1 t kerrie poeier
1 t xanthan gum
1 t wit peper

Metode:
Berei flesse voor: Was en spoel flesse; hou warm in oond by 120 C vir 10 min en verlaag temperatuur na 90C totdat dit gebruik word. Berei die deksels deur dit in ‘n pot kookwater te hou.

Berei baba bete:
Sny blare af, maar laat 2,5 cm stingel en wortel om bloei van kleur te verhoed.
Was deeglik. Sorteer volgens grootte.
Bedek soortgelyke groottes met kookwater en kook totdat sag (25–30 minute).
Let wel: Dreineer en gooi kookwater weg.

Skil en sny:
Laat baba bete effens afkoel.
Sny wortels en stingels af en trek skil af.
Sny in 0,5 cm (¼-duim) skyfies.
Skil, was en sny uie dun.

Pekelstroop:
Meng die xathan gum met die sukralose. Meng dan die water, asyn, sout in ’n groot kastrol.
Plaas kaneel stokkies by mengsel in die kastrol.
Bring tot kookpunt. Voeg baba bete en uie by en laat prut vir 5 minute.
Verwyder kaneel.

Bottel:
Skep warm baba bete en uie skyfies met ’n gaatjieslepel in warm, skoon glas flesse.
Laat 1,25 cm spasie bo.
Verwyder lug spasies en pas kopspasie aan indien nodig.
Vee fles rande skoon met ’n klam papier handdoek.
Plaas deksels op. Moenie te styf toe skroef nie. Net totdat die bottel hak.

Verwerk:
Plaas in ’n kokende waterbad tot net onder die nekke van die bottels vir 35 min met deksel van kastrol op.
Lig uit die kastrol op ‘n handdoek om bars van bottels te voorkom. Draai goed toe en draai dan bottels op hul koppe.
Laat staan ongestoord vir 12–24 uur. Kontroleer of die deksels in geduik is, as dit nie is nie plaas in die yskas en eet binne 4 weke.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2003
Hoeveelheid: 8 x 375 ml bottels